Nog skokkende bewerings teen Bougas-broers
Nog ’n donderwolk dreig om los te bars oor Anthonie en John Bougas van KleuterZone-faam ná ’n ondersoek deur Mike Bolhuis se span. Hulle word van beweerde afpersing en beweerde gewapende intimidasie beskuldig. ’n Strafregtelike saak is aanhangig gemaak.
Nog ’n vermeende skandaal, dié keer van nog ’n ernstige aard, het uitgebreek rondom die Bougas-broers, Anthonie en John.
Dit ná ’n onthutsende verslag wat op 14 Maart deur die bekende ondersoeker Mike Bolhuis se ondersoekfirma, Specialised Security Services (SSS), vrygestel is.
Die verslag beskuldig Anthonie Bougas, direkteur van KleuterZone, en sy broer John van betrokkenheid by beweerde afpersing en beweerde gewapende intimidasie.
Volgens Anthony Boucher, ’n ondersoeker van SSS, het die aanvanklike onthullings rondom KleuterZone ’n vlaag klagtes van die publiek ontketen.
Die ineenstorting van KleuterZone, ’n kindersorg-franchise wat beskuldig word dat dit soos ’n Ponzi-skema bestuur is, het regoor die land uitgekring.
Ouers soek tans desperaat na nuwe skole vir hul kinders, onderwysers is sonder betaling, en beleggers eis antwoorde.
Die meeste klagtes spruit uit nie-terugbetaalde beleggings.
Talle slagoffers beweer hul fondse is nooit soos in ondertekende ooreenkomste belowe, terugbetaal nie.
Een besonder ontstellende geval wat onlangs by die ondersoekfirma van Mike Bolhuis aangemeld is, behels ’n kliënt wat, volgens ondersoekers, tot Maart vanjaar in ’n saketransaksie met Anthonie en John Bougas betrokke was.
“As deel van die ooreenkoms, het Anthonie Bougas R4-miljoen in prokureurs se trustrekening inbetaal,” verduidelik Boucher.
Hy sê dat toe mediaberigte oor Anthonie en KleuterZone aan die lig gekom het teen einde Februarie, die kliënt ongemaklik begin voel het oor die transaksie.
Boucher wys daarop dat hoewel Anthonie aanvanklik ingestem het dat die geld terugbetaal moes word, het die kliënt die fondse teruggehou omdat Anthonie nie aan die verpligte Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (FICA) se verifikasievereistes voldoen het nie.
“Kort nadat die dispuut oor die fondse begin het, het die kliënt dreigende WhatsApp-boodskappe begin ontvang, sommige van John Bougas en ander van onbekende bronne. Een boodskap het gelees: ‘Ons weet alles van jou en volg jou nou al vir ’n week… jy het tot môre om te betaal… ons neem lewens vir ’n lewe.’ Ander boodskappe het die kliënt gemaan om ‘die geld te betaal voor alles handuit ruk’,” benadruk hy.
Volgens Boucher het die situasie verder versleg toe gewapende mans glo probeer het om toegang tot die kliënt se veilige woonkompleks te verkry, maar nie daarin kon slaag nie.
“Die kliënt is daarna ’n video via WhatsApp gestuur vanaf ’n onbekende nommer, wat vrees vir sy veiligheid verhoog het,” voeg hy by.

Na hierdie dreigemente het die kliënt hom tot SSS gewend.
Die span het ’n volledige risiko-assessering en ondersoek uitgevoer en die Bougas-broers onmiddellik in kennis gestel dat hul optrede nou krimineel ondersoek word.
“Die fondse in die trustrekening is onder beskerming geplaas, en ’n strafregtelike saak is by die polisie aanhangig gemaak,” vertel Boucher.
Sy maatskappy het die mans wat by die intimidasiepoging betrokke was, geïdentifiseer as lede van ’n privaat sekuriteitsfirma. Hierdie firma is reeds by die Private Security Industry Regulatory Authority (PSIRA) en die polisie aangemeld.
Boucher het ’n ernstige waarskuwing aan die publiek gerig: “Moenie toelaat dat jy deur die Bougas-broers geïntimideer of afgepers word nie, veral as dit die onwettige hantering van fondse of bates behels. Indien jy soortgelyke dreigemente of afpersing ervaar het, rapporteer dit onmiddellik aan die polisie en kontak ons.”
Enigiemand met inligting word aangemoedig om na vore te kom: Skakel Anthony Boucher op 064 747 3323 of stuur ’n e-pos aan
anthonyb@mikebolhuis.co.za.
Rekord het met beide Anthonie en John Bougas per Whatsapp in verbinding getree en vrae aangestuur maar geen reaksie is teen druktyd ontvang nie. Kommentaar sal bygewerk word soos ontvang.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
