News

Begrafnisondernemings gevra om liggame vinnig te verwyder

Herhaaldelike kragonderbrekings by ’n forensiese laboratorium en verskeie skole in Pretoria wek ernstige kommer oor dienslewering. Die DA eis ’n ondersoek, terwyl ’n hofbevel reeds die herstel van skole se krag gelas het. Kritieke dienste bly kwesbaar te midde van aggressiewe invorderingsmaatreëls deur die metro en groeiende administratiewe geskille.

Die metro se aggressiewe invorderingsveldtog, bekend as #TshwaneYaTima, het nuwe kommer ontlok nadat kragonderbrekings by ’n kritieke forensiese fasiliteit dienslewering begin raak het.

In reaksie op onsekerheid oor elektrisiteitstoevoer by die Tshwane Forensiese Patologie Laboratorium, is begrafnisondernemings gevra om liggame vinniger te verwyder ná nadoodse ondersoeke, om moontlike verdere komplikasies te voorkom.

Die DA het aangekondig dat hulle die stadsbestuurder gaan versoek om dringend ondersoek in te stel na die sny van krag by die laboratorium van die Gauteng Departement van Gesondheid, wat agter die Steve Biko-hospitaal in die Moot geleë is.

Die veldtog is onder leiding van burgemeester dr. Nasiphi Moya van stapel gestuur met die doel om uitstaande skuld in te vorder.

Tog dui nuwe inligting daarop dat die inwerkingstelling daarvan dikwels moontlik kritieke dienste raak wat nie deel van skuldgeskille is nie.

Volgens die DA het hierdie belangrike forensiese laboratorium in Pretoria, waar lykskouings en nadoodse ondersoeke uitgevoer word, die afgelope twee maande herhaaldelike kragonderbrekings ervaar.

Hierdie onderbrekings het volgens die party ’n klimaat van onsekerheid geskep en plaas druk op die instansie se vermoë om noodsaaklike dienste te lewer.

Die party sê hulle is betroubaar ingelig dat die probleem spruit uit ’n beweerde eis deur die metro vir ’n beduidende voorafbetaling, ten spyte daarvan dat die instansie glo geen uitstaande skuld het nie.

Verder word aangevoer dat elektrisiteit steeds gereeld afgesny word, selfs nadat die metro se finansiële departement bevestig het dat hulle nie agterstallig is nie en op ’n voorafbetaalde stelsel vir krag funksioneer.

Hierdie situasie het die laboratorium glo gedwing om op kragopwekkers staat te maak om werksaamhede aan die gang te hou.

Die laboratorium funksioneer onder die Gauteng Departement van Gesondheid en vorm deel van die provinsie se netwerk van forensiese patologiedienste.

Die departement bestuur altesaam 11 lykshuise regoor Gauteng, insluitend dié in Pretoria, waar nadoodse ondersoeke uitgevoer word.

Hierdie laboratoriums speel ook ’n kernrol in geregtelike ondersoeke, veral in gevalle van onnatuurlike sterftes. Die diens funksioneer ook in samewerking met akademiese instellings wat opleiding en navorsing in forensiese patologie ondersteun.

Hoewel daar tans nie ’n agterstand in nadoodse ondersoeke is nie, bly die onvoorspelbaarheid van kragtoevoer ’n bron van kommer vir personeel en verwante dienste.

Madeleine Hicklin, Lid van die Provinsiale Raad en woordvoerder vir Gesondheid van die DA in Gauteng, sê die DA het ontdek dat gereelde kragonderbrekings die afgelope twee maande by die instansie plaasgevind het. Dit veroorsaak onsekerheid en beïnvloed inwoners se toegang tot noodsaaklike forensiese dienste.

Sy verduidelik die uitwerking van die onderbrekings strek verder as die laboratorium self.

Die onsekerheid rondom elektrisiteit plaas volgens berigte druk op die ketting van dienste, insluitend begrafnisondernemings.

Hicklin sê: “Begrafnisondernemings word aangemoedig om liggame so gou moontlik ná ondersoeke te verwyder weens vrese dat verdere kragonderbrekings kan plaasvind.”

Sy beklemtoon dat, hoewel inkomste-invordering noodsaaklik is vir die finansiële volhoubaarheid van munisipaliteite, dit nie op ’n wyse moet geskied wat kritieke dienste ontwrig nie.

Nadoodse ondersoeke in gevalle van gewelddadige, skielike of verdagte sterftes is afhanklik van stabiele elektrisiteit.

Hicklin sê hierdie ondersoeke vereis betroubare kragtoevoer aangesien onderbrekings die integriteit van monsters kan benadeel, die identifikasie van oorskot kan bemoeilik en sleutelbewyse wat in regsprosesse gebruik word, in gevaar kan stel.

Sy waarsku dat “forensiese patologie-dienste nie gyselaar gehou kan word deur ’n invorderingsveldtog wat gebrekkig is nie en wat ’n noodsaaklike regstelsel kan ondermyn”.

Volgens Hicklin moet sulke prosesse in lyn wees met die oppergesag van die reg en mag dit nie onskuldige instellings teiken nie.

Die party meen verder dat invordering nie as ’n instrument gebruik moet word wat inwoners benadeel onder die voorwendsel van doeltreffende bestuur nie.

Intussen bly vrae oor hoe wydverspreid die probleem is en of ander kritieke instansies moontlik soortgelyke uitdagings ervaar.

Sy sê die party sal voortgaan om die saak te monitor en verdere stappe oorweeg indien daar nie vinnig opgetree word nie.

Die metro het nog nie reageer op Hicklin se spesifieke bewerings oor die forensiese laboratorium nie, maar die kwessie plaas die fokus op die balans tussen aggressiewe skuldinvordering en die beskerming van noodsaaklike openbare dienste.

Die onlangse hofbevel oor skole in Pretoria werp verdere lig op die breër implikasies van aggressiewe invorderingspraktyke.

Verskeie skole se kragtoevoer is al twee weke afgesny weens agterstallige eiendomsbelasting, ondanks die feit dat hul rekeninge vir basiese dienste soos elektrisiteit betaal is.

Die hof het bevind dat die optrede onregmatig is en het gelas dat krag onmiddellik herstel moet word, wat die kwesbaarheid van openbare instellings onder sulke maatreëls beklemtoon.

Die metro het al vanjaar kragtoevoer na verskeie sleutelregeringsinstellings in Pretoria afgesny in ’n poging om agterstallige skuld in te vorder.

Hierdie optrede het onder meer die Kgosi Mampuru II-korrektiewe sentrum geraak, waar daar ’n geskil bestaan oor die akkuraatheid van die rekeningstaat.

Die Staatsinligtingtegnologie-agentskap in Erasmuskloof is ook afgeskakel weens beweerde uitstaande rekeninge, terwyl kantore van die Departement van Arbeid en ’n SAPS-akademie soortgelyke onderbrekings ervaar het.

In die gesondheidsektor is die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal ook by kragonderbrekings ingesluit, wat kommer oor die impak op pasiënte en dienste laat ontstaan het.

Die burgemeesterskantoor het bevestig dat die metro sy #TshwaneYaTima-veldtog voortgesit het in die eerste week van Mei met verskeie optredes waar elektrisiteit afgesny is by eiendomme wat geld aan die stad skuld.

Tydens die invordering is daar teruggekeer na woonstelblokke in die Pretoria-middestad waar die kragtoevoer by woonkomplekse in Danville asook by ’n besigheid in Pretoria-Wes ontkoppel is. In ’n verdere deel van die veldtog in Mei is elektrisiteit oo by woonkomplekse in Rietvalleirand en Equestria in Pretoria-oos ontkoppel.

Die gesamentlike waarde van inkomste wat die metro hiermee probeer invorder het, beloop meer as R1.39-miljoen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button