Booysens ontwikkeling staan glo stil oor administratiewe chaos
Die vertraagde Booysens Uitbreiding 4-ontwikkeling en reservoirprojek in Pretoria-Wes wek toenemende kommer nadat miljoene rande reeds bestee is terwyl inwoners steeds wag op dienslewering en behuising. Die Tshwane-metro blameer swak kontrakteurprestasie, terwyl die VF Plus administratiewe wanbestuur en gebrekkige toesig as die kernprobleem uitwys.
Meer as R163-miljoen se belastinggeld is reeds aan die Booysens Uitbreiding 4-ontwikkeling in Wes-Moot en Pretoria-Wes bestee, maar die projek staan steeds onvoltooid te midde van bewerings van swak bestuur, kontrakteurprobleme en administratiewe mislukkings binne die metro.
Die ontwikkeling is naby Andeon en Van der Hoffweg geleë en is naby areas soos Kirkney en Danville.
Die gebied huisves honderde huishoudings en vorm deel van die metro se hervestigings- en behuisingsontwikkelingsplanne vir inwoners wat in informele omstandighede woon.
Die VF Plus sê inwoners word deur die metro se ‘laksheid’ in die steek gelaat.
Die party het die metro beskuldig van administratiewe laksheid en growwe wanbestuur wat die ontwikkeling van Booysens Uitbreiding 4 kniehalter en belastingbetalers aan ernstige finansiële risiko’s blootstel.
Dit volg nadat ’n verslag van die metro se oorsigkomitee vir menslike nedersettings glo verskeie probleme rondom die projek blootgelê het, insluitend beweerde oortredings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA), swak projekbestuur en gebrekkige interne kontroles.
Lenor Janse van Rensburg, VF Plus-raadslid op die oorsigkomitee, sê die werklike probleem lê nie net by kontrakteurs nie, maar binne die metro se eie administrasie.
“Administratiewe laksheid en growwe wanbestuur binne die metro onder leiding van die ActionSA/ANC/EFF-koalisie kniehalter die ontwikkeling van Booysens Uitbreiding 4,” sê Janse van Rensburg.
Volgens haar skets die verslag ’n ‘ontstellende prentjie’ van herhaalde administratiewe tekortkominge.
“Kontrakteurs word nie maandeliks geëvalueer nie. Dokumentasie en ontwerpe kry eers aandag nadat krisisse ontstaan en swak voorsieningskanaalprosesse lei tot boetes, kostestygings en vrugtelose uitgawes,” verduidelik Janse van Rensburg.

Lenor Janse van Rensburg, VF Plus-raadslid, het ’n inspeksie by die reservoirprojek in Pretoria-Wes gedoen. Die VF Plus voer aan dat administratiewe wanbestuur, swak projekbeheer en kontrakteurprobleme die ontwikkeling vertraag en belastingbetalers aan verdere finansiële risiko’s blootstel. Foto: Verskaf
Sy beweer verder dat swak wetstoepassing en gebrekkige samewerking tussen departemente die situasie op die terrein vererger het.
“Grondstortings en onwettige strukture vererger die situasie omdat die terrein net gedeeltelik voorberei is en nou verlate staan. Dit is ’n direkte gevolg van swak wetstoepassing en gebrekkige koördinering tussen departemente.”
Die VF Plus het intussen ’n skriftelike versoek aan die komitee gerig waarin ’n opvolgverslag geëis word oor die vordering van die projek.
Die party vra onder meer vir ’n volledige onafhanklike ondersoek na die interne administratiewe vertragings, volledige openbaarmaking van alle koste-eskalerings en variasiebestellings, ’n dringende hersiening van voorsieningskanaal-tydlyne en gereelde kwartaallikse terugvoer aan die raad.
“Die inwoners van die area sowel as buurte rondom die ontwikkeling in die Wes-Moot en areas verdien ’n projek wat professioneel, deursigtig en finansieel gesond bestuur word en nie ’n administrasie wat deur sy eie ontwikkeling kniehalter nie,” sê Janse van Rensburg.
Die metro het egter sommige van die bewerings betwis en sê stappe is reeds geneem teen die betrokke projekbestuurder.
Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die projekbestuurder wat verantwoordelik was vir die projek, is geskors en aan ’n dissiplinêre proses onderwerp weens swak kontrakbestuur.
“Ongelukkig is die betrokke bestuurder sedertdien oorlede,” sê Mashigo.
Hy bevestig ook dat ’n onafhanklike ondersoek na die administratiewe vertragings wel gedoen is.
Mashigo ontken egter dat kontrakteurs nie gemonitor is nie.
“Die kontrakteur is maandeliks gemonitor in lyn met die werksprogram. Verder is maandelikse vergaderings op die terrein gehou om werkvordering te monitor.”
Die metro het ook ’n uiteensetting van die projek se finansies bekend gemaak.
Die oorspronklike kontrakwaarde was sowat R160.7-miljoen, maar die bedrag het later tot meer as R235.4-miljoen gestyg.
Volgens die metro is R163.6-miljoen reeds aan die projek bestee, terwyl sowat R71.8 miljoen nog uitstaande is.
Boetes van meer as R1-miljoen is reeds betaal deur kontrakteurs, terwyl retensiegelde van meer as R14-miljoen teruggehou word.
Mashigo sê die stad is tans besig met regsaksie teen die kontrakteur.
“Die stad eis tans van die kontrakteur se prestasiewaarborg, retensie en die verlieskoste vir die stad deur die kontrakteur. Die dokumente is reeds deur die stad se regspan aan die kontrakteur beteken.”
Hy ontken ook dat daar onwettige strukture of grondstorting op die terrein is.
Met betrekking tot die stad se voorsieningskanaalprosesse sê Mashigo diensverskaffers moet onder meer bankgraderings en stawende dokumente oor voldoening aan die vereistes van die Boubedryfsontwikkelingsraad saam met tenders indien.
Die ontwikkeling is volgens die metro tans ongeveer 70% voltooi.
Mashigo sê water- en riooldienste aan die suidelike gedeelte van die ontwikkeling is reeds geïnstalleer, maar dat ’n nuwe voltooiingsdatum eers bepaal sal word sodra ’n nuwe kontrakteur aangestel is om die uitstaande werk te voltooi.
Die beplande reservoir langs Van der Hoffweg wat die ontwikkeling moet bedien met water is intussen net 30% voltooi.
Volgens die metro is grondwerke en platformlae reeds gedoen, terwyl die blindinglaag en ondergrondse dreinering sowat 70% voltooi is.
Mashigo sê die vertragings met die reservoir hou direk verband met die beëindiging van die kontrakteur se diens weens swak prestasie.
Hy voeg by dat inwoners van die Gomorrah- en Groen Containers-informele nedersettings eers na metro-ontwikkelings in die gebied sal kan verhuis sodra water-, riool- en ablusiegeriewe by Andeon Uitbreiding 37 voltooi is.
Dié nedersettings in Pretoria-Wes bly in die kollig sedert 2007 te midde van voortdurende debatte oor hervestiging, behuising en dienslewering.
Die metro het oor verskeie jare planne aangekondig om inwoners van Gomorrah na formele behuisingsontwikkelings te verskuif, insluitend projekte in Andeon Uitbreiding 37 en gebiede noord van Pretoria. Meer as 400 huishoudings sou volgens vorige metroplanne hervestig word om druk op infrastruktuur, onwettige elektrisiteitsverbindings en swak sanitasie te verlig.
Inwoners het egter in die verlede teen sommige hervestigingsplanne beswaar gemaak en aangevoer dat Gomorrah eerder opgegradeer moet word as om hulle na ander gebiede te verskuif.
Lees meer: Geen kragineenstoring nie, metro verwerp bewerings
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook onsFacebook,TwitterenInstagramenTikToken WhatsApp Channel
