Montana atleet laat 33 jaar oue atletiekrekord spat
Hoërskool Montana spog deesdae met ’n leerling wat amptelik die eerste posisie op die wêreldranglys vir junior atlete beklee ná haar puik vertonings by die Jeug Statebondspele in Samoa.
Hoërskool Montana se superster op die atletiekbaan, Taylon Bieldt, het dit wéér gedoen.
Ná haar wêreldklas prestasies by die Afrika Jeug kampioenskappe vroeër vanjaar, het Bieldt by die onlangse Jeug Statebondspele in Samoa weer ’n Suid-Afrikaanse- en Afrika-rekord laat spat.
In Samoa het Bieldt se harde werk weereens dividende gelewer toe sy op die derde dag van die Spele die 100m-hekkies in ’n tyd van 13,18 sekondes gewen het. Nie alleen bring Taylon die goue medalje huis toe nie, maar met hierdie poging skryf sy ook twéé nuwe rekords agter haar naam.
Dié tyd breek eerstens die 33 jaar oue Suid-Afrikaanse rekord van (13,24 sekondes) wat Ilse Ras in 1982 opgestel het. Bieldt se wentyd was boonop ook ’n nuwe Afrika rekord in dié item. Sy het haar eie Afrika rekord (13,30), wat sy in April vanjaar by die Afrika Jeug kampioenskappe in Mauritius opgestel het, ook in die slag laat bly.
Die afgelope jaar het groot hoogtepunte ingehou vir dié blitsvinnige atleet. Gedurende die April-vakansie het sy agt goue medaljes losgehardloop. Tydens die Suid-Afrikaanse Skole Kampioenskappe in Rustenburg het Bieldt die 100m-hekkies en 400m-hekkies gewen. Die medley-aflosspan en 4 x 100m-aflosspan, waarvan sy deel was, het albei ook eerste plekke verower. In albei aflos-items is die Suid-Afrikaanse skolerekords verbeter.
Die ASA-Kampioenskappe, wat in Bloemfontein plaasgevind het, was ’n verdere hoogtepunt vir Bieldt. Tydens hierdie byeenkoms het sy weereens vier goue medaljes in die volgende items verower: 100m-hekkies, 400m-hekkies, 4 x 100m-aflos en 4 x 400m-aflos. In beide hekkie-items het sy ’n persoonlike beste tyd opgestel. In die 100m-hekkies was haar tyd 13,27s en in die 400m-hekkies het sy ’n tyd van 59,47s opgestel. Haar tyd in die 100m-hekkies is die tweede vinnigste tyd ooit in Suid-Afrika vir dogters onder 17.
Gedurende April het sy in Mauritius aan die Afrika Jeugspele deelgeneem. Sy het beide die hekkie-items (100m en 400m) in nuwe Afrika-rekord tye gewen.
Bieldt is ook by die span ingesluit wat gedurende Julie aan die Jeug Wêreldkampioenskappe in Columbië deelgeneem het, waar sy deurgedring het na die semi-finale.
In 2014 het Bieldt Suid-Afrika by die Jeug Afrika-Spele in Zimbabwe en Jeug Olimpiese Spele in Nanjing, China verteenwoordig.
