Mini-Krieket fees lok honderde jong spelers
Meer as 300 jong krieketgeesdriftige laerskoolkinders was verlede week deel van Laerskool Tuinrand se Mini-Krieket dag.
Dertien laerskole van oor die hele Pretoria het verlede week deelgeneem aan Laerskool Tuinrand se reuse Mini-Krieket toernooi.
Die toernooi is om logitieke redes aangebied op die terrein van die Tuine Sportklub. Dié klub was dus ’n miernes van bedrywighede toe meer as 300 jong spelertjies saam met hul afrigters en ondersteuners opgedaag het vir die aksie.
Skole van so ver as die hoewe-area sowat 25km noord van Pretoria (Laerskool Uniefees) en die landelike gebied tussen Pretoria en Brits (Laerskool Vissershoek) was deel van die aksie.
Mini krieket is ’n formaat van die spel wat met die hulp van die restaurantgroep Kentucky Fried Chicken landwyd aangebied word. Dié formaat is ontwerp om jong kinders, seuns én meisies, op ’n eenvoudige intreevlak aan die spel bloot te stel. Elke span bestaan uit agt spelers en elke speler moet ’n kans kry om aktief aan alle aspekte van die spel deel te neem. Op hierdie manier word daar verhoed dat die spel onder kinders op dié jong ouderdom gedomineer word deur uitblinkers, terwyl almal ’n liefde vir krieket ontwikkel.
Nog ’n doelwit van die Mini-krieket model is om so veel as moontlik kinders betrokke te kry om daarmee ’n aktiewe leefstyl onder almal te bevorder.
Seuns en meisies speel saam in gemengde spanne op verkleinde krieketvelde. Sowat agt Mini-krieket velde kan uitgelê word op ’n standaard rugbyveld. Die spel word met spesiale verkleinde kolwe van sintetiese materiaal en sagte balle gespeel.
Ten spyte van die feit dat die meeste van die spelertjies nog leer hoe om die spel baas te raak is hulle met oorgawe deur ondersteuners, wat uit vriende en familie bestaan het, aangemoedig.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:







