Local sportSchool sportSport

Hoërskool Waterkloof wen SA skole T20 titel

Hoërskool Waterkloof het hul skitterende krieketseisoen die afgelope naweek op ’n hoogtepunt afgsluit deur as Suid-Afrika se T20 skole-krieketkampioen gekroon te word.

Hoërskool Waterkloof se eerste krieketspan is Suid-Afrika se T20 skolekampioen.

Die Klofies het die afgelope naweek in die eindstryd van Krieket Suid-Afrika (KSA) se Skole T20 Uitdaagtoernooi met die South African College High School (SACS) van die Wes-Kaap afgereken om dié prestigeryke titel te buit.

Waterkloof was die Titans se verteenwoordiger by die toernooi, terwyl SACS die Cape Cobras se kampioenspan is. Die Klofies het die eindstryd met 15 lopies gewen om as kampioen gekroon te word.

Hoewel Waterkloof op die finale dag hul eerste en enigste wedstryd van die toernooi verloor het toe hulle met 38 lopies geklop is deur Kearsney College van Durban, wat die Dolphins verteenwoordig het, het hulle op daardie stadium reeds genoeg gedoen om vir die eindstryd te kwalifiseer.

Die Titans kampioen het die toernooi, wat op die LC de Villiers sportkampus van die Universiteit van Pretoria afgehandel is, op die eerste dag met twee puik oorwinnings begin. In hul eerste wedstryd het die Klofies met St Andrews van Bloemfontein (Knights) afgereken deur hulle met 26 lopies te klop.

Daarna het Queens High School van Johannesburg, wat een van die twee transformasie/ontwikkeling-spanne by die toernooi was, aan die beurt gekom en Waterkloof het hulle maklik met 67 lopies getroef.

Op die tweede dag van die toernooi was die Klofies se eerste slagoffer die verteenwoordiger van die Lions, St Stithians College, wat as die verdedigende kampioen weer vir die toernooi gekwalifiseer het. Die Pretorianers het hulle in ’n redelike taai stryd met vier paaltjies geklop.

Waterkloof se vierde agtereenvolgende oorwinning by die toernooi, toe hulle Grey High van Port Elizabeth (Warriors) met 61 lopies getroef het, het hulle in ’n onaantasbare posisie op die punteleer geplaas. Ten spyte van die feit dat hulle daarna op die derde en laaste dag nog die wedstryd teen Kearsney College moes speel, het hulle toe reeds vir die eindstryd gekwalifiseer.

In die eindstryd was Hardus Coetzer met sy onoorwonne 77 lopies die Klofies se kolfheld, terwyl hy boonop daarna ook twee paaltjies platgetrek het.

Richard Ackermann (4 paaltjies) het gemaai onder die Kapenaars se kolwers. Al vier sy slagoffers was top orde kolwers.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button