Skoolseun maak kenners opgewonde met skitter tye op die atletiekbaan
’n Graad 11 skoolseun van die Moot in Pretoria het atletiekkenners gaande met sy vertonings op die baan en daar word geglo dat hy die potensiaal het om ’n wêreldklas naelloper te word.

Suid-Afrika beleef die afgelope paar jaar ’n atletiek revolusie en dit is veral in die naellope waar daar skielik ’n oorvloed van talent na vore kom.
’n Jong o.17 naelloper van Hoërskool Wonderboom het enkele weke gelede sy naam gevoeg by die vele ander opkomende sterre wat atletiekkenners deesdae laat uitsien na die toekoms van dié sport in Suid-Afrika.
JJ Breedt het lankal bewys dat hy die talent het om ’n top naelloper te word, maar toe hy verlede maand by ’n byeenkoms in Naboomspruit op een aand sy persoonlike beste in die 100m en 200m oortref, het hy kenners met nuwe oë na hom laat kyk.
Daardie aand het Breedt die 100m in ’n skittertyd van 10,39s afgeblits, terwyl hy die 200m ook in 22,06s gewen het.
Dis veral sy tyd in die korter naelloop wat die oë laat ek het, want daarmee sou hy as o.17 seun uit ’n C-bond skool nie net vanjaar die A-bond o.19 wedloop kon wen nie, hy sou ook ’n nuwe rekord kon opstel in beide die o.17 en o.19 wedlope by die Pretoria A-bond.
Kort na sy prestasie in Limpopo het Breedt sy potensiaal bevestig toe hy daarin geslaag het om op sy eie skool se grasbaan ’n tyd van minder as 11s in die 100m te behaal.
Daar is met groot afwagting uitgesien na Breedt se vertoning by die C-bond interhoër vanjaar, maar hoewel hy beide die 100m en 200m wedlope maklik gewen het, was sy tye nie so goed soos dit kon wees nie. Die rede hiervoor was waarskynlik ’n ligte besering wat hom gekortwiek het, nadat hy sy linker bo-been beseer het tydens ’n vroeëre streeksbyeenkoms.
Getrou aan sy aard het Breedt egter besluit om wel by die C-bond interhoër deel te neem, omdat hy nie sy skool in die steek wou laat nie. Ten spyte van die besering het hy steeds goed genoeg presteer om as beste naelloop atleet aangewys te word by die interhoër.
Dié toekomstige ster het reeds as laerskoolseun gewys dat hy die talent het om ’n top sportman te word. As onderhoofseun van Laerkool Saamspan het hy ’n medalje op die nasioale kampioenskap net-net misgeloop in die kort naelloop.
Hy is ook ’n voortreflike rugbyspeler wat as senter verlede jaar gekies is vir ’n verteenwoordigende o.16 skole-span wat in Ierland gaan toer het.
Breedt het na sy skitter-prestasies op die atletiekbaan hulde gebring aan sy afrigter, Jerry Senekal van JS Atletiekklub in Mountain View. Hy het as sewejarige laerskoolseun by Senekal begin oefen en glo dat baie van sy sukses te danke is van dit wat hy by Senekal geleer het.
Dié jong atleet is ook geseën met goeie gene. Sy pa is Kobus Breedt, wat self kan spog met ’n rits sportrestasies op die ateltiekbaan en rugbyveld. Rekord het al verskeie keer berig oor Breedt senior – ’n brandweer offisier betrokke by die Tshwane Metro – se prestasies by die World Police and Fire Games.
As baanatleet en sewes rugbyspeler het Kobus Breedt sy land reeds nege keer by dié spele verteenwoordig en hy spog met 62 medaljes wat hy oor dié tydperk verower het. Daarbenewens was hy ’n bedrewe rugbyspeler wat vir Pretoria Rugbyklub in die Carltonliga uitgedsraf het, terwyl hy ook ’n paar keer as vleuel die Bloubul trui gedra het in die laat negentigerjare.
Onthou dus gerus die naam JJ Breedt, want van dié talentvolle jong sportman gaan ons weer hoor. Wie weet, dalk sien ons hom in die toekoms in aksie in Suid-Afrikaanse kleure tydens ’n Olimpiese naelloop finaal.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


