Carmie sprei haar vlerke, maar bly trots Suid-Afrikaans
Die ster atleet van Hoërskool Montana, Carmie Prinsloo, het onlangs met Rekord gesels oor haar atletiekloopbaan en haar toekomsplanne.
Atletiek Suid-Afrika (ASA) het onlangs die name van ’n groep jong atlete bekendgemaak wat Suid-Afrika in Augustus 2021 by die o.20 wêreldkampioenskap in Nairobi, Kenia, sal verteenwoordig. Dié kampioenskap sou vanjaar reeds plaasgevind het, maar dit was een van die vele internasionale sportbyeenkomste wat ’n slagoffer van die Covid-19 wêreldkrisis geword het. Een van die eerste name wat die keurdes met vertroue vir dié span kon neerskryf, was Carmie Prinsloo. Hoewel dié langbeen kampioen-atleet van Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria tot onlangs nog besig was met haar matriek eindeksamen, het sy tog ’n tydjie afgeknyp om met Rekord te gesels oor haar atletiekloopbaan en haar toekomsplanne. Sy is natuurlik nie onbekend in skole-atletiekgeledere in Pretoria nie. Die afgelope paar jaar het sy atletiekbane aan die brand gehardloop en ’n gewoonte daarvan gemaak om ’n driekuns te behaal by Pretoria se A-bond interhoër, wanneer sy telkens goud gewen het in die 800m, 1500m en 3000m. Haar vele rekords by skole-byeenkomste oor die afgelope jare in hierdie nommers sal waarsynlik nog lank onoortref bly staan. Sy het byvoorbeeld vanjaar drie ongelooflike nuwe rekords opgestel in dié drie nommers by die A-bond interhoër, waar sy – onder andere – die ou rekord in die 1500m vir dogters o.19 met 12 sekondes (4:23,24) verbeter het.
Prinsloo spog met persoonlike beste tye in die 800m (2:06,66), 1500m (4:17,10) en 3000m (9:18,92), terwyl sy ook in die 5000m (baan en pad) en 10000m (pad) al tye gehardloop het wat die kenners laat regop sit. Sy is ook trots op haar tyd van 1:23,38 wat sy onlangs tydens die grendelstaat tydperk in ’n halfmarathon (21km) aangeteken het. Tog glo Prinsloo en haar afrigter, Wessel du Toit, dat sy tot veel beter in staat is, veral as sy meer gereeld die kans kan kry om teen internasionale teenstand mee te ding. Dié standpunt word onderstreep deur die feit dat sy haar beste tyd in die 3000m in 2018 as 16-jarige by die Jeug Olimpiese Spele in Buenos Aires, Argentinië, gehardloop het. As landloopatleet is Prinsloo teen plaaslike teenstand onoorwonne sedert haar graad nege jaar en sy het reeds verskeie nasionale kampioenskap titels ingepalm. Verlede jaar het sy by die junior wêreldkampioenskap in Denemarke as 17-jarige (die meerderheid van haar teenstanders was reeds o.19 atlete) ’n 27ste plek behaal. Die hardloop-gogga het Prinsloo reeds as jong dogtertjie gebyt, toe haar oupa – ’n veteraan Comrades marathon atleet – sy familie saamgesleep het na wedlope. Sy het as 9-jarige aan die 5km pretlope begin deelneem. https://youtu.be/XubAbMQkVIE Tog was sy nie dadelik suksesvol nie en as laerskool atleet het sy volgens eie getuienis baie gemiddeld presteer. Haar huidige afrigter, Du Toit, het egter haar potensiaal raakgesien en haar genooi om saam met hom te begin oefen. Dié bekende afrigter het in sy loopbaan van langer as 40 jaar al verskeie nasionale kampioene opgelewer en sedert hy Prinsloo onder sy vlerk geneem het, is die res geskiedenis. “Meneer Du Toit is beslis die mens wat die grootste invloed op my loopbaan gehad het. Hy is ongelooflik positief en ek glo daar is krag in sy woorde,” het Prinsloo met oortuiging vertel. Dis ook nie toevallig dat sy Du Toit se seun, die Suid-Afrikaanse Paralimpiese ster, Charl, as haar sportheld beskou nie. “Ons het al baie saam geoefen en ek het baie by hom geleer. Maar, net soos met sy pa, is die eienskap van hom wat ek die meeste admireer sy positiwiteit. Dit is aansteeklik en dit gee ’n mens baie energie,” het Prinsloo gesê. Wat haar toekomsplanne betref, het Prinsloo aan Rekord die nuus gebreek dat sy reeds ’n beurs-aanbod aanvaar het om teen middel 2021 by die Universiteit van Arkansas in die VSA aan te sluit. Terwyl sy ’n graadkursus in Spraakterapie gaan volg, sal sy as deel van dié universiteit se bekende Razorbacks Sportinstituut top afrigting en fasiliteite geniet. Dié skuif sal natuurlik ook aan haar die geleentheid bied om meer gereeld teen top opposisie deel te neem. Prinsloo het Rekord egter verseker dat sy nie vir Suid-Afrika verlore sal wees nie. “Ek gaan net in Amerika studeer en nie ’n Amerikaner word nie. My droom bly steeds om as Suid-Afrikaner aan die Olimpiese Spele deel te neem,” het sy gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




