Skittervertoning vir Garsies, Affies en Menlo swoeg en Klofies verloor
Pretoria se top skole het die afgelope naweek weereens gemengde sukses behaal op die rugbyveld, waartydens die VirSeker Beker toernooi reeds vir sommige skole afgeskop het.
Ná verlede week se sukkel-vertonings van Pretoria se top rugbyskole by die Noord-Suid skolerugby toernooi, was daar die afgelope naweek vordering vir sommiges, terwyl ander steeds sukkel om ordentlik momentum op te bou.
Vir Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Waterkloof het hul veldtogte in die VirSeker Beker toernooi die afgelope naweek afgeskop, terwyl Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) en Hoërskool Menlopark belangrike vriendskaplike wedstryde gespeel het om hul voorbereiding vir die res van die seisoen af te rond.
Pretoria Boys High School se wedstryd teen Jeppe High van Johannesburg is afgestel weens Covid-maatreëls.
– Garsfontein het hul koppe opgetel ná die Noord-Suid terugslae en hul VirSeker Beker veldtog met ’n prag-oorwinning van 48-0 oor HTS Middelburg begin.
Hoewel die Rooies van Middelburg ook twee nederlae gely het by die Noord-Suid toernooi, het hulle baie opwindende rugby gespeel en byna daarin geslaag om die puik span van Stellenberg uit Belville (Kaapstad) te klop.

Foto: Frans Lombard
Die Garsies se Bere het egter duidelik hul volgende rat gevind ná die Noord-Suid nederlae en met sprankelrugby agt keer teen HTS Middelburg agter die doellyn gaan kuier.
Hul verdediging was ook baie beter, soos die telling getuig, aangesien die manne van Mpumalanga nie enige pune kon aanteken nie.
– Waterkloof se nederlaag van 14-24 teen Hoërskool Monument moet ook in perspektief beskou word. Die Klofies was nog nie vanjaar in aksie nie, nadat hulle weens Covid-probleme aan beide die Monnas Eeufees en die Noord-Suid reeks moes onttrek.
Ten spyte van hul agterstand teen ’n span wat sedert 24 April reeds teen drie van die beste skole uit die Wes-Kaap gespeel het, het die Klofies inderdaad ’n goeie vertoning gelewer. Teen rustyd was die telling nog gelykop en die manne van Krugersdorp kon eers in die tweede skof die oorhand kry.
Waterkloof het twee keer gaan druk, terwyl Monnas vier drieë gedruk het.
– Menlopark se eerstes moes hard werk om in die laaste minuut van hul vriendskaplike wedstryd teen Hoërskool Nelspruit die gelykmakende punte aan te teken. Die eindtelling was 21-elk.
Nelspruit is deesdae nie meer ’n sogenaamde “Makro”-skool nie en speel vanjaar in die VirsekerBeker Plaat-afdeling.

Foto: Frans Lombard
Die Parkies sal dus hierdie vertoning so gou moontlik wil vergeet en hul wisselvalligheid wil afskud, aangesien hul VirSeker Beker veldtog volgende week teen hul ou aartsvyand en buurman, Waterkloof, afskop.
– Vir Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) wag daar ook swarigheid en ’n moontlike loesing op hul tuisveld as hulle nie eerskomende naweek dramaties verbeter nie, aangesien hulle die briljante span van Grey Kollege (Bloemfontein) moet aandurf.
Affies het gesukkel om King Edward School (KES) van Johannesburg met 15-11 te klop, nadat hulle ook nie by die Noord-Suid toernooi oortuig het nie.
Die Wit Bulle beskik oor baie vaardige individue in hul span, maar sukkel nog met hul samespel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



