Tuks Top 10 atletiekprestasies dek tafel vir groot opwinding by Pretoria interhoër byeenkomste
Die Tuks Top 10 atletiekbyeenkoms, wat verlede week in Pretoria aangebied is, het verskeie wêreldklas prestasies opgelewer en uitslae ten opsigte van die deelnemende skole uit Pretoria dui daarop dat baie opwindende atletiek vanjaar by die plaaslike interhoër byeenkomste verwag kan word.
Verlede week se Tuks Top 10 atletiekbyeenkoms, wat in die Tuks atletiekstadion plaasgevind het, het kenners en liefhebbers van skole-atletiek opgewonde gemaak oor volgende week se interhoër byeenkomste in Pretoria.
Veral vir die A-bond interhoër, wat op Vrydag 25 Februarie sal plaasvind, is die tafel gedek vir ‘n bul-stryd tussen die verskillende spanne van Afrikaans Hoër Meisieskool (AHMP), Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) asook die seuns en meisies spanne van Hoërskool Menlopark.
Affies en Menlopark se seuns kan ook kwaai teenstand verwag van die seuns-span van Prestige College in Hammanskraal.
Nog twee skole wat deel is van die Pretoria A-bond, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Garsfontein sou kennis geneem het van die feit dat hulle vanjaar by die A-bond interhoër groot teenstand kan verwag van skole soos Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Montana.
Hoërskool Oos-Moot weet ook nou dat hulle met ’n reuse poging vorendag sal moet kom as hulle hul plek in die Pretoria A-bond wil behou.
Altesaam 21 byeenkoms rekords het gespat by dié prestige geleentheid van TuksSport, wat oudergewoonte atlete en skole gelok het uit vyf verskillende provinsies. Atletiekspanne van skole so ver as Pietersburg en Tzaneen in Limpopo, Betlehem in die Vrystaat, Rustenburg in Noordwes en Secunda in Mpumalanga het na Pretoria gereis vir die byeenkoms.
Die besonder hoë standaard van die atletiek wat opgedis is, word bewys deur die feit dat altesaam 24 atlete daarin kon slaag om prestasies van 960 punte en meer op die Atletiek Prestasie Evaluasie (APE) tabelle te behaal. Dít word beskou as wêreldklas prestasies in die verskillende ouderdomsgroepe.
Vive Jingqi van die Tuks Sportskool is die enigste atleet wat twee keer op dieselfde byeekoms volpunte (1000) op die APE tabel kon kry. Sy het die 100m vir meisies o.17 (11,59s) en die 200m mesies o.17 (23,51s) albei gewen met wêrelklas tye vir haar ouderdomsgroep. Albei haar tye was ook nuwe byeenkomsrekords.
Ander atlete wat volpunte op die APE tabel kon kry was Jordan Meyer van Affies, wat die gewigstoot vir seuns o.15 met ’n afstand van 18.83m gewen het en Tiaan Stevens van Montana het die diskus item vir seuns o.15 met ’n afstand van 64,18m gewen.
In die gewigstoot item vir seuns o.19 het twee deelnemers dié besondere prestasie van 1000 APE punte behaal. Aiden Smit van Menlopark (19.16m) en Cean de Villiers van Noordheuwel (19.33m) het beklemtoon dat Suid-Afrika baie diepte in die velditems het vir die toekoms.
Hoërskool Garsfontein se groot ster atleet, Brian Raats, het weer nie teleurgestel nie. Hy het ook ’n byeenkomsrekord oortref met sy wen-sprong van 2,15m in die hoogspring vir seuns o.19. Dié poging was 960 punte werd op die APE tabel.
Hierdie prestasies het bewys dat, ten spyte van die terugslag wat atlete moes verwerk weens die afgelope twee jaar se gebrek aan deelname weens Covid, daar beslis uitgesien kan word na vanjaar se interhoër- en ander byeenkomste wat nog voorlê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.













