Local sportSchool sportSport

Helpmekaar klop Pretorianers by Super Interhoër in spankompetisie, Affies en AHMP dra Jakarandastad se vlag

Hoewel die meeste plaaslike atlete wat aan Woensdag se Super atletiek-interhoër in Roodepoort deelgeneem het waarskynlik nog die effek van verlede week se Pretoria A-bond interhoër byeenkoms aan hul liggame sou kon voel, was daar tog puik prestasies by dié prestige geleentheid.

Helpmekaar Kollege van Johannesburg het die algehele spankompetisie by Woensdag se Super Interhoër op die Ruimsig baan in Roodepoort gewen. Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) het egter weer daarin geslaag om die Pretorianers se naam hoog te hou, toe hulle eerste geëindig het in die span-afdeling vir seuns, terwyl die meisies van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) dieselfde gedoen het in die spanafdeling vir meisies. By die Super Interhoër, wat vir langer as twee dekades al aangebied word, ding Pretoria se top atletiekskole in twee afdelings mee met die bestes uit Johannesburg, die Oos-Rand en enkele skole uit Noordwes en Mpmalanga. Die enigste Pretoria A-bond skole wat nie by hierdie byeenkoms teenwoordig was nie, is Hoërskool Menlopark en Hoërskool Oos-Moot.

In die top A-afdeling het Helpmekaar gewen met 765 punte, gevolg deur Prestige College van Hammanskraal (636.5), Hoërskool Waterkloof (632,5), Hoërskool Zwartkop (623), Hoërskool Garsfontein (539), Hoërskool Kempton Park (526) en Hoërskool Monument (493). As die seuns- en meisies se totale geskei word, lyk sake oudergewoonte effens anders. Affies (425) het die seuns-afdeling gewen, gevolg deur Helpmekaar (391.5), Prestige College (369), Waterkloof (305.5), Zwartkop (279, Monument (274), Garsfontein (259) en Kempton Park (241). Onder die Meiseis het AHMP maklik gewen met 447 punte, gevolg deur Helpmakaar (373.5), Zwartkop (344), Waterkloof (327), Kempton Park (285), Garsfontein (280) Prestige College (267.5) en Monument (219). Die enigste skool uit Pretoria wat in die B-afdeling deelgeneem het, was Hoërskool Montana. Hulle het sewende geëindig met 566 punte, ná Hoërskool Noordheuwel (wenners met 765 punte), Hoërskool Nelspruit (730), Hoërskool Rustenburg (715), Potchefstroom Gimnasium (618), Hoërskool Klerksdorp (606) en Hoërskool Randburg (577). Hoërskool Dr. Malan van Alberton was agtste met 526 punte. Uiteraard was die atletiek van hoogstaande gehalte en elf byeenkomsrekords het in die slag gebly. Met hierdie prestasies het die Pretoria skole totaal oorheers met tien van die nuwe rekords wat deur Pretorianers opgestel is. Slegs Monument se Albert Smit met sy nuwe diskusrekord vir seuns o.15 (64.56m) was nie ’n Pretorianer.’ Vyftien atlete in die A-afdeling het wêreldklas prestasies gelewer deur 950 punte of meer op die Atletiek Prestasie Evaluasie tabel (APE) te verdien in ’n item. Pretorianers het ook hier oorheers met 13 uit die 15.

Die top atleet van die byeenkoms in die A-afdeling was waarskynlik Precious Molepo van Prestige College. Sy het twee rekord-tye aangeteken in onderskeidelik die 100m en 400m vir meisies o.17, terwyl sy drie keer die 950-punte kerf op die APE tabel oorskrei het. Haar tyd van 11,78 in die 100m was 960 punte werd, haar 24,16s in die 200m was 965 punte werd en sy het volpunte (1000) verdien met haar wenpoging in die 400m, wat sy in 53,26 afgeblits het. Hoewel Molepo die ou rekord oortref het in die 100m, sal dit nie agter haar naam pryk nie, aangesien hy met die silwer medalje tevrede moes wees in dié item. Kayle Murray van Waterkloof (11,68s en 978 punte) was die wenner. Slegs vyf nuwe rekords is opgestel in die B-afdeling. Nelspruit se Ashley Erasmus met haar twee nuwe rekords en twee keer volpunte op die APE tabel was die grootste uitblinker in die kompetisie. Een van die ses atlete in die A-afdeling wat die 1000 punte kerf op die APE tabel kon bereik, was Garsfontein se Brian Raats, wat wéér sy persoonlike beste van 2,20m in die hoogspring vir seuns o.19 behaal het. Raats is slegs 5cm weg daarvan om Jacques Freitag en Breyton Poole se Suid-Afrikaanse jeug (o.18) rekord van 2,25 te ewenaar. Hy het egter nog ’n paar geleenthede om dit te doen, met die SA junior kampioenskappe wat binnekort volg, asook die Junior Wêreldkampioenskap in Augutsus vanjaar.  

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button