Garsfontein maak geskiedenis in rugby-skouspel teen Affies
Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan het Saterdag voor ’n reuse skare in trietsige weer vir die eerste keer ooit met Afrikaans Hoër Seunskool afgereken.
Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan het Saterdag op hul tuisveld wéér daarin geslaag om geskiedenis te maak, soos dié span gereeld gedoen het sedert hul sowat agt jaar gelede as ’n ernstige mededinger onder die land se top rugbyskole ontpop het.
Ná ’n droogte van 12 jaar, waarin Garsfontein nie teen Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) op die rugbyveld meegeding het nie, kan die Garsie Bere nou spog met hul heel eerste oorwinning ooit teen Affies, nadat hul eerstespan ’n skitterende en uiters spannende wedstryd met 20-19 gewen het.
Dis algemeen bekend dat daar omstrede redes was waarom Affies verkies het om sedert 2014 nie teen Garsfontein te speel nie, nadat hulle die vorige vyf kragmetings tussen dié twee skole redelik maklik gewen het. Kom ons vergeet nou maar van hierdie intrige en hoop net dat dit nooit weer sal gebeur nie. Die klassieke aard van Saterdag se wedstryd en die invloed wat dit het op skolerugby oor die algemeen, het bewys dat ’n jaarlikse derby tussen Affies en Garsfontein ’n móét is op die skolerugby kalender.
Duisende toeskouers het opgedaag om die groot stryd tussen twee baie goeie spanne te aanskou en hulle het beslis waarde vir hul geld gekry.
Die tuisspan het goed begin en eerste punte aangeteken na sowat vyf minute se spel. Teen daardie tyd was dit reeds duidelik dat Garsfontein baas was in die vaste skrums en dis was juis vanaf ’n vaste skrum wat vorentoe beweeg het, dat die Garsies se agterlyn ’n goed-geoefende beweging kon uitvoer met heelagter Michail Damon wat aan die buitekant van sy senters aangesluit het. Hy het swak verdediging van Affies uitgebuit, drie teenstanders maklik geklop en in die hoek oorgeduik.
Twintig minute later was dit Affies se beurt. Ten spyte van hul skrum in trurat naby die doelelyn, kon skrumskakel Armand Shahia die bal blitsig wegkry, waarna dit tot by binnesenter Heinrich Horn gevorder het. Hy het met ’n slim oorslaan-aangee die groot heelagter, JL van Rensburg, in ’n gaping weggestuur om te druk.
Enkele bewegings later het Garsfontein hul klas gewys deur onmiddelik terug te slaan vir hul tweede drie. Nadat Affies nie ’n bal kon uitskop nie, is daar met ’n teenaanval begin en wéér het Damon ’n paar Affie-verdedigers geflous met om die spasie te skep. Hy het na sy linkervleuel, Boeloe Scott, uitgegee wat weer terug na binne laat loop het vir senter Pieter Coetzer om die drie van die dag af te rond.
Nicallen Gabrielsen het ses punte vir die tuisspan met strafdoele bygevoeg en met Garsfontein wat 20-7 voorgeloop het teen rustyd en Affies wat gesukkel het in die skrums, wou dit lyk of ’n groot verrassing en ’n groot telling sou volg.
Daar word egter nie verniet jare al gepraat van die veelgeroemde “Affie-Guts” nie. Die Wit Bulle het veral hul een uitstaande sterkpunt in die wedstryd – hul lynstaanwerk – goed gebruik om momentum te bou.
Haker Hanro Truter het die eerste punte van die tweede skof aangeteken deur ’n lynstaandryfbeweging af te rond.
Die besoekers kon maklik met hul gevaarlike dryfspel die wedstryd beklink het, maar skitterspel van Garsfontein – veral die flank en kaptein, Anrich Engelbracht en haker De Wet Lottering – by die afbreekpunte, het dié wapen grootliks geneutraliseer.
Engelbrecht het ook beïndruk met puik leierskap toe sy span op ’n stadium met slegs 14 spelers verwoed moes keer om Affies van die doellyn weg te hou, nadat agtsteman Abri van der Westhuizen met ’n geelkaart afgestuur is weens daardie irriterende “wegrol” reël wat meestal geen sin maak nie – veral as die bal in elk geval speelbaar is vir die aanvallende span.
Ses minute voor die eindfluitjie het Affies weer vanaf ’n dryfbeweging aangeval en toe die bal blitsvinning na die linkervleuel. Marx Nel, geskuif word, het hy weer gewys dat daar geen plaasvervanger vir spoed is op ’n rugbyveld nie. Hy het sy teenstanders eenvoudig met vaart geklop om in die hoek oor te duik.
Die doelskop was egter mis en dít kon Garsfontein aan hul voorsprong laat klou vir die laaste minute om die geskiedkundige oorwinning te bekragtig.
Uiteindelik het albei spanne kanse verbeur, maar Garsfontein se beter eerste helfte en doelgerigte verdediging het die skaal in hulle guns geswaai. Elkeen wat die skouspel aanskou het, sal saamstem dat rugby – en veral skolerugby in Pretoria – die grootste wenner was.
Mag hierdie Pretoria-derby nou ’n jaarlikse instelling word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





