Pretoria skole presteer by Wildeklawer toernooi, skop af met gemengde sukses in Noordvaal Beker
Drie van die plaaslike skole wat deel was van vanjaar se gesogte Wildeklawer rugbytoernooi in Kimberley het groot sukses behaal, terwyl die vierde twee nederlae gely het en steeds sukkel om op dreef te kom nadat die Noordvaal Beker toernooi die afgelope naweek afgeskop het.
Die Wildeklawer skolerugby toernooi word beskou as een van die mees prestigeryke geleenthede van sy soort in die land en vir die plaaslike vier deelnemers van Pretoria was daar vanjaar meer sukses as terugslae tydens dié spogtoernooi.
Afrikaans Hoër Seunskool (Affies), Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Waterkloof het verlede week met goeie rapporte van twee oorwinnings elk uit Kimberley teruggekeer, maar vir Hoërskool Menlopark wil sake steeds nie heeltemal reg verloop nie.
Affies het in hul eerste wedstryd in Kimberley met die gevaarlike Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal (25-7), asook een van Durban se top skole, Glenwood (49-14), afgereken.




Die Bere van Garsfontein het die Oos-Kaapsese spogskool, Framesby (45-13), asook die trots van Stellenbosch, Paul Roos Gimnasium (21-18) geklop.
Waterkloof het twee taai wedstryde beleef, maar uiteindelik met beide Diamantveld van Kimberley (19-17) en HTS Drostdy van Worcester (15-14) afgereken.
Ongelukkig lyk dit of die huidige houer van die VirSeker Beker titel, Menlopark, sukkel om op dreef te kom in die nuwe post-Covid seisoen. Hulle het in Kimberley teen Durban High School (10-31) en Hoërskool Stellenberg (17-42) pakslae gekry, nadat hulle vroeër in Maartmaand ook gesukkel het by die Noord-Suid toernooi in Pretoria.
Menlopark het intussen die afgelope Saterdag in ’n herhaling van die 2019 VirSeker Beker eindstryd teen Helpmekaar Kollege van Johannesburg met 6-10 verloor. Dié wedstryd het boonop om die verkeerde redes die nuus gehaal weens die vier geelkaarte en een rooikaart wat deur die skeidsregter uitgedeel is.

Intussen het Menlopark ook verlede week ’n nuwe rugbydirekteur gekry, toe die bekende Nico Luus, wat die afgelope twee seisoene die span van Tukkies tot Varsitybeker kampioen gebrei het, by Dean van der Watt oorgeneem het.
Luus sal nou die groot taak hê om die Parkies se seisoen te probeer red. Dit raak ook nie makliker nie, aangesien hulle eerskomende Saterdag teen hul bure van anderkant die N1 snelweg, Waterkloof, sal speel in hul tweede Noordvaal Beker bepaling.
– Waterkloof se Noordvaal Beker seisoen het ook op ’n negatiewe noot begin toe hul eerste wedstryd in dié toernooi nie Saterdag kon plaasvind nie, weens tot soveel as agt positiewe Covid-gevalle in die span.
Waterkloof se bestuur het aansoek gedoen dat die wedstryd op ’n later datum ingepas word.


Foto: Frans Lombard
– Garsfontein se Bere stoom steeds voort. Die Garsies het hul eerste bepaling in die Noordvaal Beker toernooi teen HTS Middelburg maklik met 38-26 gewen. Hulle sal egter eerskomende naweek in ’n weg-wedstryd teen Hoërskool Monument van Krugersdorp weer behoorlik getoets word.
– Affies, wat die afgelope naweek ’n ruskans geniet het, speel eerskomende naweek in ’n wegwedstryd teen King Edward VII School (KES) van Johannesburg. Dié spogskool ervaar ook ’n puik seisoen tot dusver vanjaar en het nog net een uit nege wedstryde – teen Grey Kollege van Bloemfontein – verloor.

Foto: Frans Lombard

Foto: Frans Lombard


Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
