Affies, AHMP en Klofies hou Pretoria se naam hoog by “Super” Interhoër
Top skole in die Noordvaal streek het die afgelope week hul atletiekseisoen afgesluit met die sogenaamde “Super Interhoër”, wat vanjaar op die Pilditch baan in die weste van Pretoria plaasgevind het.
Ná afloop van verlede week se Pretoria atletiek interhoër byeenkomste, waartydens die plaaslike kampioene in verskeie bonde bepaal is, het die verskillende Noordwes Universiteit Interskole byeenkomste, wat algemeen ook bekendstaan as die “Super Interhoër” die afgelope week plaasgevind.
Vanjaar het ’n plaaslike skool, Hoërskool Waterkloof, die kans gekry om Afdeling 1 en 2 van hierdie prestige atletiekbyeenkomste aan te bied. Dit het beteken dat die top ligas van die “Super” interhoër – wat groepe 1 en 2 insluit – vir die eerste keer in meer as ’n dekade in Pretoria, in die Pilditch stadion, plaasgevind het.
Hierdie interskole kompetsie kan met reg beskou word as ’n Noordvaal interhoër, met die beste atletiekskole noord van die Vaalrivier wat veral in die boonste twee afdelings teen mekaar meeding. Die enigste gerekende faktor in skole-atletiek wat nie by hierdie kompetsie betrokke is nie, is die Pretoria A-bond kampioen, Hoërskool Menlopark.
Waterkloof het nie net ’n reuse sukses van die aanbieding van hierdie byeenkoms gemaak nie, maar hul atlete het ook Pretoria se naam hoog gehou deur tweede in die spankompetisie te eindig ná Helpmekaar Kollege, wat die byeenkoms gewen het.
Die volledige span-afdeling uitslae lyk soos volg: Helpmekaar Kollege (733 punte); Hoërskool Waterkloof (699 pumnte); Hoërskool Noordheuwel (684,5 punte), Hoërskool Zwartkop (647,5 punte); Hoërskool Garsfontein (507,5 punte); Hoërskool Kempton Park (470,5 punte) en Pretstige Kollege (428 punte).
Prestige College sal dus, net soos in die geval by die Pretoria A-bond, gerelegeer word uit Groep 1 van hierdie kompetisie.
Die seuns-afdeling is gewen deur Afrikaans Hoër Seunskool (461 punte) en Afrikaans Hoër Meisieskool (441 punte) het al die skole se dogters-spanne uitgestof.
Woensdag se “Super-Interhoër” (Afdeling 1) het, net soos verlede jaar, weer gewys hoeveel uitstaande talent in Suid-Afrika beskikbaar is. Die atletiek by hierdie byeenkoms is vir jare al van die beste gehalte wat by enige skole-byeenkoms in Suid-Afrika gevind sal word. Die elf rekords wat verbeter is in Groep 1 en ses in Groep 2 gee reeds ’n aanduiding van die uitstaande standaard wat by die byeenkoms gehandhaaf is.
Hoewel daar net te veel skitter vertonings by die byeenkoms was om op te noem, kan wel gemeld word dat volpunte (1000) op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel deur drie atlete vermag is. In Groep 1 was daar Hencu Lamberts van Affies wat die gewigstoot vir seuns o.17 met ’n afstand van 19.43m gewen het.
AHMP se Timeke Coetzee het ook weer dié prestasie behaal in die verspring vir dogters o.17 met haar poging van 6,26m, wat ook ’n nuwe rekord is.

In Groep 2 was dit die Laevelder, Ashley Erasmus (dogters o.19) van Hoërskool Nelspruit wat twee keer volpunte kon behaal toe sy eers die diskus item met ’n afstand van 49.87m (nuwe rekord) en daarna ook die gewigstoot met haar poging van 15.96m gewen het.
Die ster van die byeenkoms was egter waarskynlik Helpmekaar Kollege se Leendert Koekemoer, wat as o.16 seun verstommende tye in die 100m (10,61s; 915 APE punte); 200m (21,38s; 977 ATP punte) en 400m (46,96s; 977 punte) wedlope aangeteken het. Aldrie sy tye is nuwe rekords.
Een van die merkwaardigste vertonings was Chemene Mentz se oorwinning in ’n nuwe rekord tyd van 04:36,71m (902 punte) in die 1500m vir dogters o.15. Daarmee het sy die bekende Olimpiese atleet, Irvette van Zyl (Van Blerk) se rekord, wat vir 21 jaar sedert 2002 gestaan het, verbeter.
Hoërskool Montana was die enigste plaaslike skool van Pretoria wat deel was van die stryd in Groep 2. Die Montie atlete het vyfde (648 punte) geëindig in hierdie afdeling, wat gewen is deur Potchefstroom Gimnasium met 685 punte.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






