Hoërskool Menlopark se nuwe gimnasium kry revolusionêre toerusting
Die Hoërskool Menlopark het verlede week hul nuwe gimnasium, wat met revolusionêre oefen-apperate en kondisionerings-toerusting toegerus is, amptelik geopen.
Meer as 40 jaar nadat Die Hoërskool Menlopark een van die eerste skole in Pretoria geword het om ’n gimnasium-gebou op eie koste aan te bou, het dié fasititeit onlangs ’n gedaanteverwisseling ondergaan.
Die skool se adjunkhoof, Nico Erasmus, het tydens die inhuldiging van die nuwe gimnasium vertel hoe dié gebou in die laat 1970’s opgerig is met die hulp van ouers en die gemeenskap wat letterlik boumateriaal geskenk het. Nou, na meer as vier dekades, staan die gebou steeds sterk, maar aan die binnekant is dit die afgelope maande omskep in ’n revolusionêre moderne sentrum vir die kondisioing van die skool se sportsterre.

Foto: Koos Venter
In samewerking met One More Fitness Systems is Menlopark se gimnasium her-toegerus met die nodige oefen-apparate om voorsiening te maak vir die kondisionering van al die skool se atlete en sportmanne.
Volgens Werner Dreyer van One More Fitness Systems, wat die meeste van die toerusting self ontwerp en gebou het, is hul apparate uniek in die bedryf, omdat dit doelgerig gebou word om die sportman se liggaam te kondisioneer volgens die sport waaraan hy deelneem en selfs volgens sy spesifieke posisie in spansportsoorte.
Dreyer het onthul dat die skool se belegging daarin een van die grootstes en bestes in die land is, wat waarskynlik net deur die Noordwes Universiteit oortref word. Uiteindelik sal atlete van 14 verskillende sportsoorte baatvind by die fasiliteit.

Foto: Koos Venter
Nadat Marcus Strydom, ’n dagbestuurslid van die skool se Matriekraad en kaptein van die eerste rugbyspan, die verrigtinge amptelik geopen het, het die skool se hoof, Schalk Reynders, die seremoniële lint geknip om nuuskierige gaste die geleentheid te bied om die nuwe gimnasium van binne te besigtig.
Die skool beskik ook oor die dienste van ’n biokenetikus, wat die skoliere sal bystaan, terwyl afrigters van verskillende sportsoorte opgelei sal word om die apperaat korrek aan te wend. Menlo se Direkteur van Senior Rugby, Dirk Odendaal, is ook ’n opgeleide sportwetenskaplike en sal ’n belangrike leidende rol vervul in die nuwe gimnasium.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
