Room van Suid-Afrika se rugbyskole in aksie by Noord-Suid toernooi in Pretoria
Liefhebbers van skolerugby hoef nie aan die einde van die maand Kimberley toe te ry om die heel beste rugbyskole in die land in aksie te sien nie, want hierdie naweek kom hulle almal Pretoria toe vir die NoordSuid-skolerugby toernooi op die sporttreerin van Afrikaans Hoër Seunskool (Affies).
Watter skole verskyn op byna elke “ranglys” van die skolerugby liefhebbers wat so graag Suid-Afrika se spog rugbyskole in rangorde wil orden?
Grey Kollege van Bloemfontein? Beslis, ja. Die groottes uit die Boland, soos Paarl Gimnasium, Hoër Jongeskool Paarl (Paarl Boys High in die volksmond) en Paul Roos Gimnasium? Defenitief ook hulle, ja. Dan natuurlik ook Oakdale en Outeniqua uit die Suid-Kaap, Maritzburg Colllege en Glenwood High uit Natal, King Edward School, Jeppe High School, Helpmekaar Kollege en Hoërskool Monument uit Johannesburg en Pretoria se ramkat-skole, soos Affies, Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Menlopark.
Voeg hierby name soos Hoërskool Nelspruit uit Mpumalanga, Hoërskool Dr. EG Jansen uit die Oos-Rand, nóg Wes-Kaapse skole soos HTS Drostdy en Hoërskool Stellenberg, Noord-Vrystaat se Welkom Gimnasium, Hoërskool Noordheuwel uit die Wes-Rand en Pretoria Boys High en jy het ’n baie goeie prentjie oor al die skolerugby talent wat vanaf Vrydag 31 Maart tot Dinsdag 4 April oor vier dae in aksie gaan wees by die Noord-Suid skolerugby toernooi, wat vanjaar weer op die velde van Affies in Pretoria aangebied gaan word.

Foto: Frans Lombard
Dis beslis nie vergesog om die stelling te maak dat sowat 70% van die seuns wat by hierdie toernooi in aksie gaan wees, later vanjaar ook by die o.18 Cravenweek in George of die o.19 Akademieweek in Johannesburg te sien sal wees nie. En die meeste skole wat opruk na die Noord-Suid fees, sal oor ’n maand ook by die gesogte Wildeklawer toernooi in Kimberley in aksie wees.
Pretorianers is dus in die bevoorregte posisie dat hulle al hierdie talent eerste in aksie kan sien en nie nodig het om later ver te reis om dit te doen nie.
Die eerste wedtryde skop reeds Vrydag oggend om 08:15 af, wanneer Hoërskool Noordheuwel en Maritzburg College se tweedespanne mekaar aanvat op die A-veld, terwyl Hoërskool Waterkloof en HTS Drostdy se tweedes op die B-veld verrigtinge sal begin.

Foto: Frans Lombard
Later Vrydag volg liplekker-tweestryde wanneer die eerstespanne van Waterkloof vs HTS Drostdy (12:00); EG Jansen vs Welkom Gimnasium (13:30); Nelspruit vs Glenwood (15:00); Noordheuwel vs Maritzburg College (16:30); Affies vs Durban High School (18:00) en Grey Kollege vs Paarl Gimnasium(19:30) in aksie is.
Saterdag begin die aksie reeds om 07:45, maar die eerstespanne van Pretoria Boys High vs Durbanville (11:30) skop die hoofprogram af. Dan volg Helpmekaar Kollege vs Oakdale (13:00); Garsfontein vs Stellenberg (14:30); Jeppe vs Paarl Boys High (16:00); Menlopark vs Outeniqua (17:30) en Monument vs Paul Roos Gimnasium (19:00).

Foto: Frans Lombard
Maandag 3 April se eerstespan aksie begin met EG Jansen vs HTS Drostdy (13:00); Waterkoof vs Glenwood (14:30); Nelspruit vs Durban High School (16:00); King Edward School vs Paarl Gimnasium (17:30) en Grey Kollege vs Maritzburg College (19:00).
Die laaste dag van die toernooi (Dinsdag 4 April) se top aksie begin met Garsfontein vs Oakdale (10:00). Daarna volg Noordheuwel vs Durbanville (11:30); Helpmekaar vs Stellenberg (13:00); Pretoria Boys High vs Paul Roos Gimnasium (14:30); Menlopark vs Welkom Gimnasium (16:00) en Monument vs Outeniqua. Die toernooi word afgsluit met ’n tweestryd tussen Affies en Paarl Boys High (19:00).
Kaartjies vir die toernooi is aanlyn beskikbaar by ticketpro.co.za
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
