Local sportSchool sportSport

Pretorianers behaal weer gemengde sukses by Noord-Suid skolerugby toernooi

Daar was vreudge en sukses vir sommige van die plaaslike deelnemers aan vanjaar se Noord-Suid skolerugby toernooi, terwyl ander weer sal moet terugkeer na die tekenbord om te probeer verbeter tydens die res van die seisoen wat voorlê.

Terwyl die opwindende Noord-Suid skolerugby toernooi steeds in statuur groei, het die plaaslike deelnemers aan hierdie rugbyfees weer gemengde sukses behaal tydens die aksie op die veld.

Twee van die deelnemers uit Pretoria het volpunte met twee oorwinnings elk gekry, maar vir ander het dit minder voorspoeding gegaan.

Uiteindelik kan liefhebbers van skolerugby egter uitsien na ’n opwindende seisoen vir skole soos Afrikaans Hoër Seunskool (Affies), Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Waterkloof en selfs Pretoria Boys High School, terwyl harde werk voorlê vir Hoërskool Menlopark as hulle vorentoe sukses wil behaal.

Die spogtoernooi is vir die derde jaar agtereenvolgens aangebied op die sportvelde van Affies. Van die land se top rugbyskole uit Gauteng, die Vrystaat, Natal, die Suid-Kaap en die Wes-Kaap was in aksie by hierdie toernooi.

– Na verlede jaar se sukses, waartydens hulle onder andere met Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch afgereken het, was die gasheer skool vanjaar minder gelukkig.

Hoewel Affies hul eerste wedstryd net-net met 25-24 teen die baie onderskatte span van Durban High School gewen het, het hulle ongelukkig in die hoofwedstryd van die laaste dag van hierdie vierdag-toernooi teen Hoër Jongenskool Paarl (beter bekend as Paarl Boys High) met 19-26 verloor.

Affies het in albei wedstryde soms goeie rugby gespeel, maar daar sal hard gewerk moet word aan sekere aspekte van hul spel, voordat hulle die res van die seisoen aanpak. Dinge raak ook nie makliker nie, want in die volgende maand wag Garsfontein (tuis), Paarl Gimnasium (weg), Oakdale Landbouskool (Wildeklawer toernooi in Kimberley) en Paul Roos Gimnasium (ook Wildeklawer toernooi) op die Wit Bulle van Affies.

– Garsfontein het verlede jaar ’n baie suksesvolle seisoen beleef. Dit was by 2022 se Noord-Suid toernooi reeds duidelik dat die Bere van Garsies ’n span is wat nie maklik geklop sou word nie, toe hulle eers gelykop gespeel het teen Hoër Jongenskool Paarl en daarna ’n reuse oorwinning oor HTS Drostdy behaal het.

Vanjaar het die Bere die Noord-Suid toernooi met twee oorwinnings afgesluit. In hul eerste kragmeting het hulle die sterk span van Hoërskool Stellenberg (wat later met Helpmekaar Kollege afgereken het) met 34-29 geklop.

Daarna het Garsfontein gemors met Welkom Gimnasium in hul tweede wedstryd. Die eindtelling was 59-31.

Met hul vertoning het die Garsies se Bere gewys dat hulle vanjaar weer ’n faktor in die Noordvaal reeks gaan wees, terwyl skolerugby entoesiaste reeds hul lippe aflek vir hul tweestryd met Affies, wat op 15 April by Affies plaasvind.

– Soos wat mens gewoond geraak het van Hoërskool Waterkloof se rugbyspan onder leiding van Cobus van Dyk, het dié span weer twee vasbyt vertonings teen moeilike teenstanders gelewer by die Noord-Suid toernooi.

Die Klofies het baie karakter gewys en in albei wedstryde eers in die laaste paar minute die knoop deurgehaak.

Waterkloof het in hul eerste wedstryd met 22-19 teen HTS Drostdy gewen, waarna hulle ook op dag drie met Glenwood High School van Durban afgereken het (32-28).

Met hierdie vertonings het die Klofies gewys dat  hulle beslis ook vanjaar ’n faktor gaan wees in die Noordvaal reeks.

– Soos hul bure en aartsvyand anderkant Universiteitsweg, Affies, het Pretoria Boys High (PBHS) ook gemengde welslae behaal by vanjaar se Noord-Suid toernooi. PBHS het op dag twee met Hoërskool Durbanville (35-31) afgereken, maar daarna op die laaste dag vasgeval (19-29) teen Paul Roos Gimnasium.

– Net soos verlede jaar het Hoërskool Menlopark ongelukkig weer gesukkel by die Noord-Suid toernooi. Trouens, hulle het selfs swakker gevaar deur twee stewige loesings op die lyf te loop.

Menlo het op dag twee ’n reuse pakslae (11-71) by Outeniqua van George gekry, terwyl hulle ook op die laaste dag met 17-62 deur Welkom Gimnasium verneder is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button