Local sportSchool sportSport

Garsies se Bere klop Affies in hul agterplaas

Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan het Saterdag die opwindende derby teen Affies op laasgenoemde se tuisveld gewen om sodoende hul onoorwonne rekord vanjaar te behou en Affies boonop vir die tweede jaar agtereenvolgens te klop.

As enigiemand nog wonder waarom Suid-Afrikaanse rugby so ’n krag in die internasionale opset is, kan hulle gerus na die opname van Saterdag se klipharde, genadelose skolerugby derby tussen Afrikaans Hoër Seunskool en Hoërskool Garsfontein kyk.

In hierdie vertoonvenster vir die krag van skolerugby in Suid-Afrika het Garsfontein se Bere sewe drieë ingeryg om Affies se Wit Bulle vir ’n tweede jaar agtereenvolgens – hierdie keer nogal op laasgennoemde se tuisveld – te klop. Die eindtelling was 45-38 in Garsies se guns.

Affies het egter self vyf keer gedruk, wat vier drieë as deel van hul terugvegpoging in die tweede helfte insluit.

Daar is ’n ou gesegde in rugby wat sê dat drieë dalk toeskouers lok, maar verdediging wen wedstryde. Hierdie wedstryd was weer ’n bewys dat dié gesegde in die kol is. Skitterende verdediging en die oorheersing van hul pak voorspelers in die vaste fasette was die Garsie Bere se wenresep.

Vreugde is… om Affies in hul eie agterplaas te klop…
Foto: HS Garsfontein Facebook

Aan die tuisspan se kant was daar ’n hele paar glipse op die verdediging, wat hulle veral in die eerste helfte duur te staan gekom het. Garsfontein is egter ’n puik afgerigte span en hulle het met ’n mengsel van goeie struktuur en opwindende hardlooprugby verdien om teen rustyd met 33-10 voor te loop.

Affies se terugverg poging na hul gesukkel in die eerste helfte was merkwaardig en die drieë van binnesenter Janco Purchase en regtervleuel Stephan Brits was puik. Purchase is, ná verskeie fases deur sy voorspelers, oor met brute krag. Brits se drie is gemaak deur slim spel en goeie hande van heelagter, Migael de Lange.

Garsfontein se held was regtervleuel, Ruan Enslin, wat vier keer agter die doellyn gaan kuier het. Dit sluit die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd in. Hy het met min spasie om te beweeg krag, spoed en vernuf gekombineer om vier Affie verdedigers op pad doellyn toe te klop.

Die Bere se heelagter, Jason Hugo, was ook kookwater, terwyl skrumskakel Zian Celliers, waardevolle werk op die aanval en verdediging gedoen het. Dan kan Garsies se vaste vyf nie vergeet word nie. Wanner laas het ’n pak voorspelers van Affies só slae gekry in die vaste skrums?

Daar sal onder die Garsie-ondersteuners waarskynlik vrae gevra oor die eerste geelkaart teen hulle vroeg in die tweede helfte en die feit dat dít, asook vyf strafskoppe teen nul, die Bere baie momentum gekos het ná hul puik eerste helfte.

Nietemin, uiteindelik was dit die Bere wat karakter gewys het om tot die einde te veg en die wendrie te druk vir ’n welverdiende oorwinning.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button