Oos-Moot se nuwe sporthoof droom groot en werk met ‘n plan
Hoërskool Oos-Moot se nuwe Sporthoof se planne is agtermekaar om van die skool ’n krag te maak wat op alle vlakke met die heel bestes te kan kompeteer.
Nadat die Hoërskool Oos-Moot verlede jaar besondere hoogtepunte bereik het op die rugbyveld, het min ondersteuners van dié skool gedink dat daar enigsins op verbeter kan word in 2023.
As dit egter van die Oosies se nuwe Sporthoof afhang, lê die beste nog voor en sal die skool se sukses op die sportveld binnekort weer die gemeenskap trots maak.
Braam Pretorius is geen onbekende in die skolesport gemeenskap nie, maar in die ligblou kleure van Oos-Moot is hy wel nuut. Daar is egter genoeg rede om te glo dat Pretorius die regte man op die regte tyd is om die ontwikkeling van die enorme potensiaal van Hoërskool Oos-Moot op die sportveld te bestuur.
Hy is eerstens self ’n seun van die Moot wat sy skoolopleiding gehad het by Laerskool Mayville en Hoërskool Wonderboom.
Na skool het hy ’n B-Tec graad in Sportbestuur aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) behaal. In sy studentejare het Pretorius behoorlik naam gemaak as sportman, veral op die rugbyveld.
Nadat hy as o.20 speler sy Bloubul kleure verwerf het, was Pretorius vir ’n hele paar seisoene een van die uitstaande sterre in die Carltonbeker toernooi, waar hy op heelagter en vleuel vir TUT uitgeblink het. In dié tydperk het sy naam gereed heel bo aan die lys gepryk vir top puntemakers in die Carltonbeker liga.
Ná ’n draai in Europa, waar hy twee seisoene in Duitsland rugby gespeel het, het Pretorius in 2008 teruggekeer na Pretoria om vir TUT in die heel eerste Varsitybeker toernooi te speel. Daarna word hy deur die Pumas gewerf, waar hy vir drie seisoene Curriebeker rugby speel. In 2009 help hy as top puntemaker in die liga die Pumas om die Curriebeker B-afdeling te wen, terwyl hy ook deur SA Rugby genomineer word as Speler van die Jaar in dié liga.
Dié eggenoot van Anzche en pa van twee seuns het sy rugbyloopbaan as speler in 2012 by die Valke aan die Oos-Rand afgesluit, maar teen daardie tyd was hy reeds gevestig as afrigter op skolevlak in sy hoedanigheid as Sporthoof by Hoërskool Wonderboom.
Sy skuif na Maragon Privaatskool in die Ooste van Pretoria net voor die begin van die 2014 rugbyseisoen het ook gepaard gegaan met Pretorius se aanstelling as Cravenweek keurder en hulpafrigter van die Blou Bulle se o.19 Akademieweek span.
Sedert 2019 was hy betrokke by Hoërskool Menlopark as afrigter en rugby-ontwikkelingsbeampte, voordat hy sy pad teruggevind het na die Moot, waar hy weer tuis is tussen sy mense.
Onder sy leiding as Sporthoof het Oos-Moot reeds twee van hul groot doelwitte van die jaar behaal deur die B-bond atletiekbyeenkoms en die C-bond swemgala te wen. Die skool se atlete sal dus in 2024 weer saam met die groot honde van die A-bond blaf, terwyl hulle ook na die B-bond swemgala bevorder sal word.
Die wintersport seisoen het ook goed afgeskop en die Oosies se eerste rugbyspan sal nie net probeer om hul titel as Noordvaal kampioen in die Skild-afdeling te verdedig nie, maar hulle vaar tans ook goed in die NWU Prestige reeks.
Pretorius glo egter aan ’n holistiese benadering en deeglike beplanning. Een van sy doelwitte is om die laerskole van die Moot by atletiek-; rugby-; hokkie- en netbal akademies te betrek, wat deur Oos-Moot bestuur moet word.
Hy glo ook die skool se puik fasiliteite kan selfs beter benut word ten opsigte van die kondisionering van deelnemers aan alle sportsoorte, terwyl hy planne het om die oefenprogramme sódanig te bestuur, dat atlete byvoorbeeld regdeur die jaar aktief bly, terwyl deelnemers aan wintersportsoorte ’n sinvolle afseisoen program moet volg.
Hou dus gerus die vordering va Oos-Moot se sportspanne en individue dop. As dit van Braam Pretorius afhang, sal dié skool se krag en prestasie op die sportveld binnekort ver buite die grense van die Moot weerklink.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.