Garsies maak skoonskip teen hul bure
Die Hoërskool Garsfontein het Saterdag vir die soveelste keer die afgelope agt jaar die rekordboeke herskryf toe hulle ’n merkwaardige prestasie behaal het in hul wintersport derby teen hul bure en aartsvyand, Hoërskool Waterkloof.
Dit was reeds vroeg in die seisoen duidelik dat Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan vanjaar só goed is, dat hulle waarskynlik op die prestasies van die legendariese span van 2015 kan verbeter.
Soos vanjaar se Bere, was dáárdie span ook oor twee seisoene opgebou. Die vorige jaar het hulle hul bure, Hoërskool Waterkloof, vir die eerste keer ooit geklop en later na die eindstryd van die destydse Beeldtrofee (Makroskole) deurgedring, waar hulle met een punt teen Nelspruit verloor het.
’n Jaar later het die Garsies se Bere alles voor hul platgevee en die eerste keer in die skool se geskiedenis die Beeldtrofee (later VirSeker Beker en deesdae die SDC Noordvaal Beker) gewen.

Foto: Frans Lombard
Die afgelope Saterdag was daar weer ’n eerste vir Garsies teen hul bure, maar hierdie keer het vier sportspanne in die triomf gedeel. Vir die eerste keer ooit kon Garsfontein daarin slaag om al vier die belangrike wedstryde in die jaarlikse wintersport derby tussen die twee spogskole te wen.
Nie net het die Garsie Bere (eerste rugbyspan) hul tweede vyftigtal (50-21) in die geskiedenis teen Waterkloof behaal nie, maar die eerste hokkiespanne (seuns 5-0 en dogters 2-1) het ook as wenners uit die stryd tegree, terwyl die dogters van die eerste netbalspan hul eweknieë van Klofies met 30-29 geklop het.
– Die stryd op die rugbyveld was egter baie harder en strawwer as wat die telling aandui.

Foto: Frans Lombard
Nadat die wedstryd ’n wipplank-begin gehad het, met albei spanne wat kanse verbeur het, was dit Garsfontein se buitesenter, Dimitre Erasmus, wat ’n blitskrieg vir sy span begin het met die eerste drie van die wedstryd na sowat tien minute se spel. Daarna het nog twee drieë deur kaptein Abrie van der Westhuizen in die bestek van vyf minute gevolg en skielik was die Bere met 17-0 voor.
Die Klofies het egter teruggeveg en hul woelige flank, Jean Jooste, het sy eerste drie halfpad deur die eerste helfte gaan druk toe hy met krag deurgestorm het ná ’n tikskop beweging naby die doellyn.
Na ’n paar belowende bewegings vir Waterkloof skeefgeloop het, was dit die Garsies wat met omgekeerde besit teruggeslaan het en die groot, sterk vleuel, Ruan Enslin, het weer sy krag gewys deur met twee verdedigers op sy rug oor te beur.
Waterkloof het wéér teruggeveg en met die rustyd-toeter in die agtergrond is Jooste oor vir sy tweede drie, ná ’n dryfbeweging van die Klofie voorspelers. Dit het beteken dat die rustyd telling op 22-14 te staan gekom het en die uitslag was nog in die weegskaal.

Foto: Frans Lombard
Ná rustyd het die Garsies egter hul spiere behoorlik begin bult en swak verdediging deur Waterkloof in die middelved het aan binnesenter Heindrich Cloete ’n verspotmaklike drie op ’n skinkbord gegee.
Hoewel Waterkloof se derde drie deur een van hul uitblinkers, heelagter Hernus Marais wéér gewys het dat die Klofies nóóit gaan lê nie – ’n eienskap van alle spanne wat deur Cobus van Dyk afgerig word – het die momentum daarna heeltemal in die guns van die tuisspaan gedraai.
Van der Westhuizen se derde drie het ná omkeerbesit in die lynstaan gevolg. Daarna het die Bere met reëlmaat die doellyn aangeval. Twee soortgelyke drieë deur haker De Wet Lottering en buitesenter Erasmus, wat albei in die gaping geplaas is deur netjiese aangeewerk van skrumskakel Zian Cilliers, het die vyftigtal op die telbord laat verskyn.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
