Local sportSchool sportSport

Garsies klop Menlopark, Klofies bons terug met goeie oorwinning in die Laeveld

Die Noordvaal Beker skolerugby toernooi is besig om momentum op te bou en die drie plaaslike skole wat in die Beker-afdeling van hierdie kompetisie meeding, was weer almal die afgelope naweek in aksie.

Met die verskillende afdelings van die NWU-PUK se vroeëseisoen skolerugby toernooi wat verlede week afgehandel is, is die Noordvaal Beker toernooi is nou in volle swang.

Net terloops moet genoem word dat die Noordvaal Skolerugby-vereniging volpunte verdien vir die wyse waarop dié eeuoue kompetisie vir hoërskole noord van die Vaalrivier geherstruktureer is. Dit was oor die afgelope eeu onderskeidelik bekend as die Administrateursbeker, Direkteurstrofee, Beeldtrofee en VirSeker Beker.

Nou het die toernooi ’n permanente naam gekry wat nie weer verander sal word nie, ongeag wie dit borg. Dit sal voortaan bekendstaan as die Noordvaal Beker en wie ookal as borg optree, se naam sal dan op die geregistreerde logo verskyn. Skole vanoor al vier die provinsies noord van die Vaalrivier speel op ’n krag-teen-krag beginsel in vier afdelings, naamlik die Beker-; Plaat-; Skild- en Bowl-afdelings.

– Nadat Hoërskool Garsfontein die toernooi verlede week met ’n knal afgeskop het en hul bure, Hoërskool Waterkloof, maklik geklop het, is die fokus die afgelope naweek verskuif na nóg ’n derby vir skole uit die ooste van Pretoria. Hoërskool Menlopark was die gasheer vir hul stryd met Garsfontein.

Die tuisspan het tot dusver ’n moeilike seisoen gehad en het veral op die Noord-Suid toernooi gesukkel. Menlo het boonop verlede week die Noordvaal Beker toernooi afgeskop met ’n groot loesing teen Helpmekaar Kollege (73-15) en kenners het iets soortgelyk verwag teen die puik span van Garsfontein.

Die Parkies het egter gewys dat hulle beslis hard werk aan hul tekortkominge en veral in die eerste helfte met ’n groot poging vorendag gekom teen die Garsies. Nadat losskakel Jayden Fortuin vroeg met ’n strafdoel eerste punte aangeteken het vir Menlo, het die tuisspan ’n paar keer mooi aangeval en selfs gevaarlik gelyk.

Asie uit die Noordvaal Beker wedstryd tussen Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Nelspruit, wat deur die Klofies gewen is.
Foto: Facebook

Garsfontin se Bere is egter ’n goed-geoliede masjien. Hulle kon kalm bly en op hul struktuur vertrou, terwyl hulle die tuisspan behoorlik opgedons het in die vaste skrums. Met hierdie oorheersing in die skrums, was dit net ’n kwessie van tyd voor die druk te groot sou raak vir Menlo.

Garsies se kaptein en agtsteman, Abrie van der Westhuizen, is besig om in ’n drieëvraat te ontluik en hy het met puik opvolgwerk die span se eerste drie gaan druk na ’n kwartier se aksie.

Nog ’n strafdoel deur Fortuin het Menlopark halfpad deur die eerste helfte nog stewig in die stryd gehou, maar daarna het Garsfontein se oorheering voorlangs aan hulle soveel momentum gegee, dat die drieë onvermydelik moes volg. Drieë deur senter Dimitre Erasmus en haker De Wet Lottering het die rustyd telling op 17-6 in die besoekers se guns te staan gebring.

Hoewel Menlopark moedig probeer veg het tot die einde, was die tweede helfte hoofsaaklik eenrigting verkeer na die Garsies se doellyn. Menlo is voorlangs geen kanse gegun nie en hul moed is gebreek met drie langafstand drieë, nadat Garsfontein telkens besit omgekeer het met die tuisspan op die aanval naby die doellyn.

Die puik-gedrilde Garsie Bere het ook hul fiksheid onderstreep toe hulle Menlo in die laaste sekondes van hul voete af gehardloop het met die een aanval na die ander en goeie wisselwerking tussen voor- en agterspelers om aan Luan Olivier die kans te bied om sy span se agtste drie te druk terwyl die toeter in die agetrgrond die einde van die wedstryd aandui.

– Hoërskool Waterkloof het Saterdag Laeveld toe gereis om hul veldtog in die Noordvaal Beker toernooi weer op koers te kry. Dít het hulle reggekry met ’n oorwinning van 28-24 oor Hoërskool Nelspruit na ’n baie taai stryd.

Die Noordvaal Beker stryd tussen Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Nelspruit was hard en taai op elke vlak. Hier wen Nelspruit lynstaan besit.
Foto: Facebook

Nelspruit het eerste bloed geruik met ’n drie na ’n kwartier se spel, wat hulle drie minute later opgevolg het met nog ’n drie ná ’n blaps in die lynstaan deur die besoekers. Halfpad deur die eerste helfte wou dit dus lyk of die Klofies in die moeilikheid is, maar hul veggees het dadelik ingeskop en basies van die afskop af het hulle teruggeveg om aan senter Ruben Ferreira die kans te bied om sy span se rekening te open.

Happy Mokate se onderskepdrie het sake teen rustyd met 14-12 in die Klofies se guns laat draai.

Edan de Bruyn (slot) se drie het Waterkloof vroeg in die tweede helfte verder laat voorloop, maar Owen Steyn (regtervleuel) se derde drie vir Nelspruit het die tuisspan weer in Klofies se nekke laat blaas.

Waldimar Griesel, regtervleul van Waterkloof se onderskepdrie halfpad deur die tweede helfte het die telling op 28-17 in Waterkloof se guns te staan gebring. Daarna het Nelspruit weer gaan druk, wat verseker het dat die laaste tien minute van die stryd kliphard en spannend was.

Die Klofies kon egter vasbyt en met vyf ligapunte in die sak die lang pad terug Pretoria toe aanpak

 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button