Waterkloof klop Menlopark, Affies kry groot pakslae
Waterkloof het Saterdag met ’n kliniese vertoning teen hul bure, Menlopark, gewys dat hulle beslis nog een van die kandidate vir ’n plek in die uitspeelrondtes van die Noordvaal Beker toernooi is.
Hoërskool Waterkloof se veldtog in die Noordvaal Beker toernooi is stewig op koers, nadat hulle hul Pretoria-Oos derby Saterdag op hul tuisveld teen Hoërskool Menlopark redelik maklik met 37-6 gewen het.
Die tuisspan het hul klas gewys en hul wedstrydplan op kliniese wyse uitgevoer, terwyl hulle ses drieë in die proses gedruk het.
Hoewel Menlopark se vertoning baie beter was as was die telbord suggereer, kon hulle eenvoudig nie die rotsvaste verdediging van die Klofies klop nie en hul enigste punte het gekom van twee strafdoele deur losskakel Jaden Fortuin.
Menlopark moet ’n pluimpie kry vir die positiewe wyse waarop hulle die stryd aangepak het, ten spyte van ’n moeilike seisoen tot dusver.
Menlo het veral in die eerste helfte voorlangs moedig gekompeteer, maar Waterkloof se goedgedrilde pak voorspelers het sommer gou die oorhand gekry. Hul eerste drie het juis gekom vanaf ’n dryfbeweging ná ’n strafskop naby die doellyn.
Hoewel daar geen swak spel onder Waterkloof se voorspelers was nie, moet die name van loskopstut, Marnus Maritz en flank Jean Jooste, uitgesonder word. Dié twee manne se werkverrigting is ’n lus vir die oog.
Die ander groot uitblinker vir Waterkloof was hul binnesenter, Reuven Ferreira. Hy is sterk op sy voete, verdedig goed en sy vermoë om geleenthede te skep vir die spelers aan sy buitekant maak dié seun ’n waardevolle rat in die Klofie masjien.
Agtsteman en kaptein, Dale Arlow, se aanvoeling vir die vloei van die spel en sy leierskap kan ook nie misgekyk word nie.
Vir Menlopark lê daar nog ’n lang en moeilike stryd voor vanjaar, maar die verbetering in hul spel – veral voorlangs – is reeds opmerklik. Moenie verbaas wees as hulle dalk wel later ’n paar van die top spanne verras nie.
Dié span sal egter daaraan moet werk om vir 70 minute te konsentreer, terwyl hul balretensie ook aandag nodig het. Meer bestendigheid van sleutelspelers soos Fortuin is nog ’n vereiste as Menlo die laaste deel van hul seisoen hul kurwe opwaarts wil hou.
– Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria (Affies) beleef een van hul swakste seisoene ooit, met hul eerstespan wat Saterdag in Bloemfontein hul grootste nederlaag in die geskiedenis teen Grey Kollege gely het. Grey het Affies met 60-19 verneder en nege drieë teen drie gedruk.
Dit was Affies se vyfde nederlaag vanjaar, wat ongekend is vir dié trotse skool se top rugbyspan.
– Hoërskool Garsfontein het Saterdag ’n welkome loslootjie geniet.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







