Local sportSchool sportSport

Montana terug in Noordvaal Cup wedloop ná goeie oorwinning

Hoërskool Montana se eerstespan het hul veldtog in die Plaat-afdeling van die Noordvaal Cup Saterdag op hul tuisveld teen HTS Middelburg weer op koers gekry met ’n baie goeie oorwinning.

Ná ’n moeilike begin in die Noordvaal Cup (Plaat-afdeling) vir Hoërskool Montana se eerste rugbyspan, het hulle die afgelope naweek daarin geslaag om hul veldtog weer op koers te kry met ’n baie goeie oorwinning (24-16) teen HTS Middelburg.

Die Monties het die reeks afgeskop met twee naelskraapse nederlae, waarin hulle elke keer ’n bonuspunt verdien het, maar net nie die knoop kon deurhaak nie.

Saterdag se wedstryde teen HTS Middelburg het deel gevorm van die jaarlikse Witbulle-dag, ’n sportfees waarin spesiaal moeite gedoen word om die gemeenskap en selfs die oud-spelers van die skool as ondersteuners betrokke te kry.

Vir die skool se eerste rugbyspan was daar ’n verrassing toe die Bloubul legende en oud Springbok, Piet Pretorius, gevra is om hulle toe te spreek en te motiveer voordat hulle teen die manne van Mpumalanga opgedraf het.

Pretorius het die Monties op kalm wyse geïnspireer met enkele staaltjies uit sy speeldae, terwyl hy ook belangrike wenke aan die spelers gegee het oor hoe om gefokus te bly op die spel tydens die wedstryd.

Laastens het hy klem gelê op die belangrikheid van samespel as ’n span. Pretorius het ook die span se truie aan hulle oorhandig, voordat hul finale voorbereiding vir die wedstryd begin het.

Die eerste helfte van die wedstryd was ’n taai stryd, waartydens albei spanne met mening ingeklim het. Elke span het ’n strafdoel behaal en die verskil met die aanbreek van rustyd was ’n onderskep-drie van die besoekers se heelagter, teen die verloop van spel. Telling 3-8 in die guns van die besoekers.

Na rustyd het die Monties die skroewe voorlangs begin vasdraai en in die vaste skrums sake begin oorheers. Dit het aan losskakel Rigard van Rensburg en heelagter Jacques Greyling die geleentheid gebied om die stewige wind in hul blaaie tot hul voordeel te gebruik. Die besoekers het nie daarvan gehou om so gereed terug te moet speel nie en die foute het begin insluip.

Nadat Van Rensburg nege punte met strafdoele in die eerste tien minute van die tweede helfte aangeteken het, was dit die wakker skrumskakel, Ewan Korb, wat ná goeie dryfwerk van sy voorspelers om die losskrum geglip het vir die span se eerste drie.

Hoewel die Middelburgers telkens probeer het om terug te veg, was Joshua Fouché se drie halfpad deur die tweede helfte genoeg om die oorwinning te verseël.

Eerskomende naweek het Montana nóg ’n harde neut om te kraak, wanneer hulle weer op hul tuisveld in aksie sal wees teen Hoërskool Kempton Park. Op hierdie stadium is hul lot nog in hul eie hande om die halfeindstryd te haal, maar dan sal daar op Saterdag se vertoning en oorwinning voortgebou moet word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button