Die Wilgers se eerste rugbyspan maak dit drie in ‘n ry
Hoërskool Die Wilgers se eerste rugbyspan is die afgelope naweek vir die derde keer agtereenvolgens as Stadsbeker kampioen in die afdeling vir medium skole gekroon.
Hoërskool Die Wilgers se eerste rugbyspan sit steeds stewig op hul troon as onteenseglike konings van die Blou Bulle se Stadsbeker vir medium skole (Groep 3).
Dít het hulle bewys deur ’n opwindende eindstryd teen die Zayo Academy met 47-37 te wen.
Hierdie oorwinning beteken dat Die Wilgers nou vir ’n derde keer agtereenvolgens as Stadsbeker kampioen gekroon is, nadat hulle ook in 2019 en 2022 koning gekraai het. Daar was weens Covid regulasies geen kompetisie in 2020 en 2021 nie.
Die Wilgers se oorheersing word verder bewys deur die feit dat slegs hul tweedespan (verloor 5-7 teen Hoërskool Erasmus), nie daarin kon slaag om Stadsbeker kampioene te word nie. Die skool se o.16 span (klop Erasmus 8-5), o.15’s (klop Curro Hazeldean 21-20) en o.14’s (klop Erasmus 15-7) is almal ook as kampioene gekroon.
“’n Klasieke stryd tussen avontuurlustige hardlooprugby en tradisionele gestruktuele spel.” Dít is hoe die eindstryd tussen die eerstespanne van Die Wilgers en die Zayo Academy in ’n neutedop beskryf kan word.
Terwyl die manne van Zayo die bal lug gegee het en die verdedigende kampioen met hul vlugvoetige agterspelers dronk wou hardloop, was dit Die Wilgers wat die grondslag vir hul oorwinning voorlangs met hul hardwerkende pak voorspelers en goeie vaste fasette gelê het. Daarmee saam het hul talentvolle losskakel, Armand Griessel, spel met sy skopvoet beheer.
Zayo het uiteindelik vyf baie opwindende drieë gedruk en danksy die akkurate skopvoet van linkervleuel, Joaquin Afrika, het hulle hulself regdeur in die wedstryd gehou.
Die Wilgers kon daarenteen met hul kragtige pak voorspelers ses van hul sewe drieë via goeie dryfspel deur die voorspelers behaal. Hul sewende drie was ’n juweel, waardeur Griessel met slim spel vanaf ’n vaste skrum die verdediging kon oopkloof om te druk.
’n Aspek wat beslis tot Zayo se nederlaag bygedra het, was hul dissipline wat soms erg gelol het. Daarvoor moes hulle twee geelkaarte trotseer, terwyl hulle by verskeie geleenthede met meters deur die skeidregter gestraf is weens terugpratery.
Dis moeilik om uitsonderings te maak in die wenspan, maar mens kan ook nie anders as om die name van hul besielende kaptein, Ajay Lottering, en hardwerkende haker, Tian Joubert, te noem nie. Loskopstut Ruaan Minny en die stewige agtsteman, Vincent Marucchi, het ook die oog gevang.
Die Wilgers het met hul oorwinning ook gekwalifiseer om aan die volgende fase op interprovinsiale vlak aan die Noordvaal Beker kompetisie vir medium skole deel te neem.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



















