Deurslaggewende naweek wag op Garsies en Klofies in Noordvaal toernooi
Terwyl Affies hul sukkel-seisoen op ’n hoogtepunt teen bul bure en aartsvyand afgesluit het, wag daar volgende week groot uitdagings vir Garsfontein en Waterkloof op die rugbyveld, wanneer hulle in die laaste ligarondte van vanjaar se SDC Noordvaal Beker kompetisie sal speel.
Met die laaste ligabepalings wat eerskomende naweek in die voorste liga van die SDC Noordvaal Cup kompetisie gespeel sal word, lê twee deurslaggewende wedstryde vir Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Waterkloof voor.
Terwyl die Garsies se Bere in hul weg-wedstryd teen Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg gaan speel om te bepaal watter een van dié twee bo aan die punteleer gaan eindig, is daar selfs meer op die spel vir die Klofies.
Die uitslag van Waterkloof se stryd teen Hoërskool Monument sal bepaal watter een van hierdie twee skole by bogenoemde twee, asook Helpmekaar Kollege sal aansluit in die halfeindrondte van die toernooi.
– Garsfontein het hul onoorwonne status in die toernooi behou deur Hoërskool Nelspruit die afgelope naweek op hul tuisveld in die ooste van Pretoria behoorlik met 89-10 af te slag.
In die proses het die Bere die doellyn elf keer oorgesteek, terwyl Nelspruit net een drie kon druk.
Nadat die besoekers binne die eerste minuut van die wedstryd met ’n stradoel geslaag het, het Garsfontein met ’n blitskrieg van drie drieë teruggeslaan en na 15 minute reeds met 21-3 voorgeloop.
Nelspruit se enigste drie het na ’n kwartier se spel van ’n lynstaan dryfbeweging gekom.
Daarna was dit basies eenrigting verkeer vir die res van die middag. Die Garsie Bere se pak voorspelers was té sterk en die agterspelers té vinnig en vaardig vir die Laevelders, en die drieë het met reëlmaat gevolg.
– Waterkloof het hul kanse in die kompetsie lewend gehou met ’n goeie bonuspunt oorwinning op hul tuisveld teen Hoërskool Marais Viljoen van Alberton.
Die Klofies, wat uiteindelik ses drieë gedruk het, het eerste bloed geruik met ’n drie vanaf ’n lynstaan dryfbeweging na slegs vyf minute se spel.
Hoewel die tuisspan kort voor rustyd reeds hul vierde drie gedruk het vir die bonuspunt, het twee sagte oomblikke op die verdediging aan die manne van Alberton die kans gebied om in daardie eerste skof self twee keer die doellyn oor te steek.
Waterkloof het die tweede helfte goed begin, maar net toe dit wou lyk of hulle die oorhand gaan kry, het ’n langafstand drie van die besoekers sake weer deurmekaargekrap.
Hoewel die Klofies hulself reggeruk het en ná nog twee drieë halfpad deur die tweede helfte gerieflik voor was, het hulle Marais Viljoen toegelaat om in die laaste tien minute binne trefafstand te kom met twee onnodige drieë.
Teen Monument sal die Klofies beslis nie kan bekostig om so fokus te verloor nie, want dan is sal hul halfeindstryd droom Saterdag op hul tuisveld nekom gedraai word.
– Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria (Affies) het Saterdag hul seisoen beëindig met ’n fees van opwindende hardlooprugby, waartydens hulle ’n gemaklike oorwinning van 76-24 in hul eeuoue dery teen hul grootste vyand aan die anderkant van die treinspoor, Pretoria Boys High School, behaal het.
Nadat Affies teen rustyd met 22-3 voorgeloop het, het hulle die krane in die tweede helfte oopgedraai en uiteindelik tien drieë gedruk.
Hoewel dit nie die grooste punteverskil ooit is in hierdie geskiedkundige derby, wat die eerste keer in 1923 plaasgevind het nie, is dit die meeste punte wat Affies ooit teen hul bure kon aanteken. Dit was Affies se 67ste oorwinning in die 118 wedstryde wat die twee spanne oor die afgelope eeu teen mekaar gespeel het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
















