Local sportSchool sportSport

Noordheuwel verras Waterkloof, Garsfontein klim steeds die leer

Terwyl Hoërskool Garsfontein steeds weekliks hul posisie op die Noordvaal Cup (Beker-afdeling) se punteleer verbeter, het Hoërskool Waterkloof ’n groot insinking beleef teen die desperate Hoërskool Noordheuwel, wat hul baie skraal halfeindrondte kanse met ’n goeie oorwinning lewend gehou het.

Wie ookal gedink het dat Hoërskool Garsfontein hul titel as SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling kampioen sommer-so gaan afstaan, sal weer moet dink.

Die Garsie Bere het stadig begin vanjaar en heelwat teëspoed gehad langs die pad, maar dit lyk of hulle hierdie keer in die pylvak van die kompetisie al hoe sterker begin word.

Garsfontein het nog nader gekruip na die top twee op die punteleer ná hul baie goeie bonuspunt weg-oorwinning van 31-28 teen Hoërskool Momument van Krugersdorp die afgelope Saterdag. Luan Olivier en sy maters is steeds in die derde  plek op die punteleer, maar dinge kan nog verander, aangesien die Garsies en EG Jansen mekaar op 10 Augustus in die laaste rondte ligawedstryde sal pak.

– Die Bere het die wedstryd soos ’n kampioenspan begin en Monnas kon eenvoudig nie al die gate toestop nie.  Die eerste kwart van die wedstryd was daar net een span op die veld en die Garies was halfpad deur dié helfte dan ook 14-0 voor na twee drieë.

Monnas het teruggeveg en self tweemaal gaan druk, terwyl die besoekers hul derde drie ook voor rustyd gedruk het om met 24-14 voor te loop toe die twee spanne moes draai.

Luan van der Berg, vaskopstut van Garsfontein, is as Man van die Wedstryd aangewys na sy skitter vertoning teen Monument.
Foto: Verskaf

In die tweede skof het die tuisspan met ’n reuse poging na vore gekom en die wedstryd het in ’n klassieke skole-derby verander.

Nadat hulle Garsfontein vir 20 minute van die doellyn moes weghou, het die tuisspan deurgebreek en kort na mekaar twee keer teen die verloop van spel gaan druk. Skielik het hulle voorgeloop en Garsfontein, wat die positiewe statistiek in die wedstryd oorheers het, se karakter sou getoets word.

Die wendrie is uiteindelik ’n paar minute voor die eindfluitjie deur Garsfontein se linkervleuel, Junaide Stuart, gedruk. ’n Enkele strafdoel was die verskil tussen die twee spanne.

– In Pretoria het Hoërskool Waterkloof nie net hul onoorwonne status in die toernooi verloor na hul nederlaag van 32-53 teen Hoërskool Noordheuwel nie, maar die gaping tussen hulle en spanne soos Garsfontein en Helpmekaar het ook gekrimp, nadat hulle die grootste deel van die seisoen in die eerste plek deurgebring het.

Noordheuwel het opgeruk na Pretoria as ’n desperate span wat ’n goeie oorwinning móés behaal om hulself ’n kans te gee om dalk nog vir die halfeindrondte te kan kwalifiseer.

Dié feit was gou duidelik, toe die besoekers binne die eerste drie minute die Klofie verdediging oopgevlek het vir die eerste van hul sewe drieë.

Klofies het mooi teruggeveg en teen rustyd (15-19) was die uitslag nog in die weegskaal.

Na die draaislag het die besoekers egter die tempo van die spel opgejaag en die vaardighede en spoed van spelers soos die SA Skole vleuel, Cheswill Jooste (wat vir sy skool heelagter speel), Lindsey Jansen en Jeandré Uithaler het die Klofies laat skarrel.  

Met die uitspeelwedstryde wat voor die deur lê – en die afgelope twee weke se vertonings in ag geneem – sal Waterkloof hulself die vraag moet vra hoe hulle op hierdie manier verloor, terwyl hulle spel voorlangs oorheers.

– Hoërskool Menlopark het met ’n reuse poging vorendag gekom in die Laeveld, maar Hoërskool Nelspruit se herlewing in die tweede deel van die ligafase duur voort. Laasgenoemde het die Parkies met 33-38 geklop.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button