Local sportSchool sportSport

Garsies klop Affies om SA20 skole streek kampioen te word

Hoërskool Garsfontein se eerste krieketspan het die afgelope naweek in Benoni die Gauteng 1 streek kampioen in die SA20 skolereeks geword toe hulle die Afrikaanse Hoër Seunsskool in die streek se eindstryd geklop het.

Hoërskool Garsfontein se eerste krieketspan, ook bekend as die Ysbere, het die afgelope naweek die streekskampioen in die Gauteng 1 streek (Titans, Easterns en Limpopo) geword, toe hulle ’n oorwinning met 18 lopies oor hul eweknieë van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) behaal het in die streek-eindstryd op Willowmoore Park in Benoni.

Die SA20 skolereeks is verwant aan die Betway SA20 professionele toernooi, wat hierdie week afgehandel word.

Nadat Garsfontein eerste gaan kolf het, het hulle aanvanklik gesukkel. Met hul telling wankelend op 51/4 in die negende boulbeurt, was dit die ou staatmaker, Echard Struwig, wat homself behoorlik voor die penne tuisgemaak het. Struwig het onder die Affie boulers ingeklim en uiteindelik 40 lopies van 30 balle bygedra voor hy been voor paaltjies betrap is in die tweedelaaste boulbeurt.

Die Ysbere is uiteindelik almal uitgeboul met die laaste bal van die kolfbeurt, maar hul 140 lopies was inderdaad verdedigbaar.

Video met vergunning van SuperSport Schools Plus

Garsfontein se boulers het die druk vroeg toegepas met twee paaltjies in die eerste vier boulbeurte. Daarna het Struwig (4/21) ook sy vernuf as bouler gewys en veral die wyse waarop hy van ’n paar middelorde boulers op ’n kritieke tyd in die wedstryd ontslae geraak het, was goud werd vir sy span.

Hy is goed bygestaan deur Xander Venter, wat met syfers van 3/13 kan spog.

Affies kon ná die eerste twee vinnige paaltjies en Struwig se druk op die middelorde nooit werklik momentum bou nie en uiteindelik het die balle opgedroog en hulle moes tevrede wees met ’n telling van 124/9 toe die 20 boulbeurte verby is.

Die Garsie Ysbere het met hul oorwinning gekwalifiseer om in die nasionale eindrondte teen die sewe ander streke te kompeteer om uiteindelik ’n nasionale kampioen te bepaal.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button