Garsfontein vier ’n kwart-eeu van Abie van Staden atletiek-aksie
Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Abrie van Staden atletiekbyeenkoms is Vrydagaand vir die 25ste keer aangebied en verskeie skitterende prestasies was deel van die aksie op die baan.
Ten spyte van dreigende donderweer, wat Hoërskool Garsfontein se 25ste Abrie van Staden Atletiekbyeenkoms Vrydagaand telkens onderbreek het, het atlete van die vier deelnemende skole gewys dat hulle gereed is vir die res van die atletiekseisoen, wat vandeesmaand by verskeie hoogtepunte sal uitkom.
Vier skole het aan die byeenkoms deelgeneem. Saam met die gasheer, Hoërskool Garsfontein, was atlete van Hoërskool Oos-Moot in Pretoria, Hoërskool Hans Strijdom in Naboomspruit en Curro Aurora in Randburg in askie.
Die dreigende weersomstandighede en onderbrekings het nie net tot die kansellasie van die 3000m wedlope gelei nie, maar waarskynlik ook ’n rol gespeel dat slegs twee byeenkomsrekords in die slag gebly het. Hierdie twee prestasies – albei deur atelete van die gasheerskool – asook ’n paar ander vertonings het egter atletiekliefhebbers op die paviljoen waarde vir hul geld gegee.
Dit was veral die vertoning van die 16-jarige Garsie, Willie van Wyk (hy word in Maart eers 17), wat kenners opgewonde gemaak het. Van Wyk het kop en skouers uitgestaan bo sy teenstanders en die bekende oud Oosrander Tiaan Steenkamp, wat deesdae in Amerika woon, se 12 jaar oue rekord van 2,00m na 2,01m verbeter. Dié prestasie was 890 punte werd op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel.
Nog ’n skitter prestasie was dié van die o.14 atleet van Garsfontein, Menahem van Schoor, wat die 100m hekkies item vir sy ouderdomsgroep in ’n nuwe rekordtyd van 13,90s gewen het. Daarmee het hy die rekord wat ook langer as ’n dekade op die boeke was (2012), uitgewis.
Ander eersteklas prestasies tydens die byeenkoms was Roemay Korff van Oos-Moot se driekuns met oorwinnings in die 100m (13,00s), 200m (27,74s) en 90m hekkies (14,47s) vir meisies o.14; Iline Botha (meisies o.16) van Oos-Moot se 12,80s in die 100m; Chanel Groenewald (meisies o.16) van Oos-Moot se 2:26,10 min in die 800m; Jayden Enslin (seuns o.17) van Hans Strijdom se 14,19s in die 110m hekkies; Janike Kruyshaar (meisies o.16) van Garsfontein se 11,73m in die gewigstoot; Jayden Stewart (seuns o.16) van Garsfontein se 14,79m in die gewigstoot; Surika Janse van Rensburg (meisies o.15) van Garsfontein se 31,12m in die diskus item; Janneman Benson van Hans Strijdom (seuns o.19) se 44,13m in die diskus item; Allené Theunissen (meisies o.15) van Garsfontein se 39,50m in die spiesgooi en Lohan de Lange (seuns o.16) van Garsfontein se 60,44m in die spiesgooi.
Oos-Moot het die aflos items oorheers en gewys dat hulle reg is vir die aanslag wat hulle waarskynlik oor ’n paar weke van Curro Hazeldean by die Pretoriase B-bond interhoër-byeenkoms kan verwag.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

















