Wêreldklas prestasies by Menlopark se Uitnodigingsbyeenkoms
Wêreldklas prestasies is behaal en verskeie byeenkomsrekords is verbeter tydens verlede week se 38ste jaarlikse Menlopark Uitnodigings-Atletiekbyeenkoms, wat op dié skool se sportterrein aangebied is.
Die Hoërskool Menlopark se 38ste jaarlikse Uitnodigings-Atletiekbyeenkoms is Vrydag op dié skool se sportterrein aangebied en toeskouers is behoorlik bederf met skitter-atletiek so vroeg in die nuwe seisoen.
Atletiekspanne van top hoërskole uit vier verskillende provinsies het na Pretoria gereis om aan die byeenkoms deel te neem.
Saam met Die Hoërskool Menlopark was plaaslike atlete van die Pretoria Boys High School en Pretoria High School for Girls in aksie, terwyl spanne van skole soos Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg, Hoërskool Vorentoe van Johannesburg en Hoërskool Monument van Krugersdorp uit ander dele van Gauteng gereis het.
Dan was daar Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp en Hoër Volkskool Potchefstroom uit Noordwes, Hoër Tegniese Skool Middelburg uit Mpumalanga en Hoërskool Ellisras uit Limpopo.
Die kwaliteit van die atletiek wat opgedis is, is duidelik sigbaar wanneer die uitslae van die byeenkoms bestudeer word. Nie minder nie as ses atlete het volpunte (1000) verdien op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel, terwyl 20 ander meer as 900 punte volgens dié evalueringsmodel verdien het.
Menlo se atlete het tydens die byeenkoms weer gewys waarom dié skool al soveel jare lank skole-atletiek in Suid-Afrika oorheers. Dis hul diepte waarmee min ander skole kan kompeteer. Teen ’n sterk groep skole soos Vrydagaand staan die prestasies van die Menlopark-atlete uit weens die feit dat hulle gereeld twee of selfs drie presteerders op die podium gehad het in dieselfde item.
Die ster van die dag was waarskynlik die 16-jarige Taelin Smith van Menlopark, wat kenners verstom het met sy persoonlike beste hoogte van 2,11m in die hoogspring vir seuns o.17. Smith word eers volgende week 17, maar dié sprong, wat 1000 APE punte werd is, sou verlede jaar aan hom die silwer medalje by die SA o.23 kampioenskap en die brons by die SA o.20 kampioenskap besorg het.
Megan Nieman, o.16 atleet van Menlopark, se tweekuns in die 100m hekkies (13,48s vir 1000 APE punte) en 400m hekkies (1:02,31 min) het aan haar ook twee byeenkomsrekords besorg. Sy het boonop ook die 100m naelloop in ’n tyd van 12,59s gewen.
Die Junior Victrix Ludorum van die byeenkoms, Menlopark se Janelle Kirkpartick (o.15), het die rekord met twee honderdstes van ’n sekonde misgeloop in die 90m hekkies, terwyl sy silwer medaljes in die 300m hekies en die 100m naelloop verdien het.
Ulrich Dreyer van HTS Middelburg se rekord afstand van 7,31m in die verspring vir seuns o.16 was ’n volle 1000 punte werd op die APE tabel.
Nog ’n veldatleet, Jaco van Dyk (o.15) van Menlopark het ook ’n tweekuns behaal. Sy nuwe rekord van 20.18m in die gewigstoot verdien ook voplunte op die APE tabel, terwyl hy die diskusgooi met 60,20 (960 APE punte) gewen het.
Menlopark se Joshua Gerber (o.16) is die ander atleet wat 1000 APE punte kon verdien toe hy die diskus 59,98m ver geslinger het vir sy nuwe rekord wen-afstand.
(VIDEO) Die ster van die 38ste jaarlikse Menlopark Uitnodigings-Atletiekbyeenkoms was waarskynlik die 16-jarige Taelin Smith van Menlopark, wat kenners verstom het met sy persoonlike beste hoogte van 2,11m in die hoogspring vir seuns o.17.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





