Curro Podium eindrondte onderstreep groeiende standaard van skole-atletiek in SA
Saterdag se eindrondte van vanjaar se Curro Podium skole-atletiekreeks het weer onderstreep dat dat die toekoms van dié sport in Suid-Afrika opwindend gaan wees, met verskeie prestasies wat met die bestes in die wêreld op hierdie vlak vergelyk kan word.
Die eindrondte van die derde Curro Podium atletiekreeks vir skole het Saterdag op die Pilditch stadion in die weste van Pretoria plaasgevind.
Hierdie konsep behels streeksbyeenkomste in die noorde en suide van die land, waarna die eindrondte jaarliks in Pretoria aangebied word. Daar word ook slegs in drie ouderdomsgroepe – o.15, o.17 en o.19 – gekompeteer.
’n Totaal van 61 skole vanoor die hele land, asook Namibië, het aan Saterdag se eindrondte deelgeneem.
Die Hoërskool Menlopark het weer gewys dat hulle nie hul gelyke in Suid-Afrika het op die atletiekbaan nie, toe dié skool hul derde agtereenvolgende Curro Podium titel ingepalm het.
Die Curro groep sal waarskynlik baie tevrede voel met die ontwikkeling van Curro Hazeldean, hul top skool in Pretoria, wat met sommige van die land se bestes afgereken het om tweede te eindig.
Gauteng – spesifiek Pretoria – se skole-atletiek standaard word onderstreep deur die feit dat agt uit die tien top presteerders tydens die byeenkoms uit dié provinsie kom. Naas Menlopark en Curro Hazeldean het Hoërskool Zwartkop (vierde), Hoërskool Montana (sesde), Midstream College (negende) en Hoërskool Garsfontein (tiende) die vlag vir Pretoria-skole gedra.
Hoërskool Noordheuwel was derde met Paarl Gimnasium in die vyfde plek, Helpmekaar Kollege sewende en Hoërskool Outeniqua van George in die agtste plek.
Soos in die verlede het Saterdag se program weer ander vermaak op die baan ingesluit, wat tot die opwindng bygedra het. Suid-Afrika se tiener Olimpiese ster, die 19-jarige Bayanda Walaza – self ’n produk van Curro Hazelden in Pretoria – het ’n sterbelaaide 60m vertoonwedloop in ’n tyd van 6,58s gewen.
Daar was ook vier unieke vertoonwedlope oor 150m en 600m vir senior atlete op die program. Dié wedlope het toeskouers die geleentheid gegee om ster atlete soos Eckhardt Potgieter (mans 150m wenner), Kayla le Grange (vroue 150m wenner), Marlie Viljoen (vroue 600m wenner) en Renier de Villiers (600m mans wenner) in aksie te sien.
Hoewel die baie warm en bedompige weer waarskynlik in sommige gevalle ’n invloed op atlete se prestasies gehad het, was daar verskeie wêreldklas vertonings te sien.
Nege atlete kon daarin slaag om volpunte (1000) op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel te behaal, terwyl 21 byeenkomsrekords in die slag gebly het.
Tumi Ramokgopa van Prestige College in Hammanskraal was waarskynlik die groot ster van die byeenkoms met twee rekords. Sy het die 100m hekkies in 13,96s gewen en die 400m hekkies in 57,78s vir 1000 punte. Haar tyd in die 400m hekkies is die vinnigste wat vanjaar deur ’n junior (o.20) atleet in die wêreld aangeteken is.
Dan was daar die vertoning van Menlopark se Taelyn Smith in die hoogspring vir seuns o.17. Hy het met 4cm verbeter op sy vertoning verlede week en dié item met ’n nuwe persoonlike beste én ’n nuwe byeenkoms rekord hoogte van 2,15cm (1000 punte) gewen.
Smith se nuwe rekord is ook die beste wat vanjaar wêreldwyd deur ’n o.17 atleet aangeteken is.
Ander merkwaardige vertonings was Janelle Kirkpatrick van Menlopark se 12,56s (1000 punte) in die 90m hekkies vir meisies o.15; Lesibe Dikgale van Curro Hazeldean se nuwe rekordtyd van 50,54s (1000 punte) in die 400m hekkies vir seuns o.19; Jayden Fourie van Outeniqua se 7,68m (1000 punte) in die verspring vir seuns o.17; Jaco van Dyk van Menlopark se rekord afstand van 20,46m (1000 punte) in die gewigstoot vir seuns o.15 en Darius Botha van Dr. Malan se 64,30m (1000 punte) in die diskus item vir seuns o.15.
CURRO PODIUM FINALE UITSLAE
Algeheel
Die Hoërskool Menlopark (42,893); 2. Curro Hazeldean (40,744); 3. Noordheuwel (40,487); 4. Zwartkop (40,099); 5. Paarl Gimnasium (39,497); 6. Montana (39,047); 7. Helpmekaar Kollege (38,754); 8. Outeniqua (38,641); 9. Midstream College (38,539); 10. Garsfontein (37,720).
Seuns
Die Hoërskool Menlopark (21,146); 2. Curro Hazeldean (21,099); 3. Affies (21,017); 4. Zwartkop (19,862); 5. Outeniqua (19,661); 6. Paarl Gimnasium (19,523); 7. Paarl Boys’ High (19,492); 8. Montana (19,330); 9 Noordheuwel (19,214); 10. Garsfontein (19,090).
Meisies
- Die Hoërskool Menlopark (21,747); 2. Noordheuwel (21,273); 3. Paarl Girls’ High (20,570); 4. Helpmekaar Kollege (20,541); 5. Zwartkop (20,237); 6 Hoër Meisieskool Bloemhof (20,115); 7. Paarl Gimnasium (19,974); 8. La Rochelle (19,905); 9. Montana (19,717); 10. Curro Hazeldean (19,645).
CURRO PODIUM TOEKENNINGS
Senior Victor Ludorum | Baan: N. Mbatha (Tuks Sports School) | 400mH: 50.80 – 1,000 | 400m: 47.40 – 904 | 1,904 punte
Senior Victor Ludorum | Field: Joshua Gerber (Menlopark) | Diskus: 57.47 – 947 | Shot Put: 16.86 – 895 | 1,842 punte
Senior Victrix Ludorum | Baan: Tumi Ramokgopa (Prestige College) | 400mH: 57.78 – 1,000 | 100mH: 13.96 – 933 | 1,933 punte
Senior Victrix Ludorum | Veld: Alicia Khunou (Podium Invitational) | Shot Put: 14.75m – 973 | Discus: 46.81 – 959 | 1,932 punte
Junior Victor Ludorum | Baan: Tiisetso Malungane (Curro Hazeldean) | 1500m: 3:59.70 – 977 | 3000m: 8:50.11 – 953 | 1,930 punte
Junior Victor Ludorum | Veld: Darius Botha (Dr. Malan) | Discus: 64.30m – 1,000 | Shot Put: 17.99m – 971 | 1,971 punte
Junior Victrix Ludorum | Baan: Lara Stander (Paarl Girls’ High) | 800m: 2:10.74 – 980 | 1500m: 4:37.21 – 899 | 1,879 punte
Junior Victrix Ludorum | Veld: Annabelle Blignaut (Monument) | Discus: 39.53m – 921 | Shot Put: 13.03m – 884 | 1,805 punte
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

























