Local sportSchool sportSport

Perfekte weer lei tot 21 nuwe rekords by Pretoria se A-bond Interhoër

Na ’n week waartydens ander atletiek-ligas gure weer en selfs ’n kansellasie weens reën moes verduur, was die nege skole van Pretoria se A-bond gelukkig om in perfekte atletiek-weer op die Pilditch baan te kon deelneem, wat atlete in staat gestel het om skitterende prestasies te behaal.

Is Die Hoërskool Menlopark op pad na ’n kwarteeu van oorheersing by die Pretoria A-bond interhoër?

Wel, enige uitdagers wat hulle wil stuit sal moet opskud, want die Parkies het Vrydag in die Pilditch stadion in Pretoria-Wes hul 23ste agtereenvolgende sege behaal in die spankompetisie.

Die een hekkie wat hulle egter steeds nie kan oorkom nie, is die is die afdeling vir seuns, wat wéér deur die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) gewen is. Menlopark het egter hul vyfde agtereenvolgende jaar daarin geslaag om ook die afdeling vir dogters te wen, met die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) oudergewoonte in die tweede plek.

In die algehele spankompetisie het Menlopark met ’n totaal van 2637 punte gewen. Hoërskool Zwartkop van Centuiron het hul merkwaardige rekord as atletiekkrag onderstreep toe hulle die tweede plek behaal het met ’n totaal van 2282 punte. Hoërskool Waterkloof, wat verlede jaar in die tweede plek geëindig het, het met die Zwarries plekke geruil en derde geëindig met 2180 punte. Daarna volg Midstream College (1915 punte), Hoërskool Montana (1868 punte), Hoërskool Garsfontein (1794 punte) en Hoërskool Eldoraigne (1434 punte).

Dit beteken dat Eldoraigne na net een probeerslag volgende jaar weer sal terugskuif na die B-bond om plek te maak vir Curro Hazeldean, wat Donderdag die B-bond gewen het.

In die seuns-afdeling is Affies (1406) gevolg deur Menlopark (1223), Zwartkop (1138), Garsfontein (1030), Waterkloof (1010), Midstream (960), Montana (912) en Eldoraigne (690).

Menlopark se dogters (1414) is gevolg deur AHMP (1278), Waterkloof (1170), Zwartkop (1144), Montana (957), Midstream (955), Garsfontein (764) en Eldoraigne (744).

Die aanbieding van hierdie spog byeenkoms verbaas ’n mens jaarliks. Net as jy begin dink dat dit onoortreflik was, verbeter die volgende gasheerskool weer op die standaard. Dit is presies wat Midstream College Vrydag gedoen het, nie net met die aanbieding in die stadion nie, maar ook met die hantering van die algehele logistiek van dié groot byeenkoms.

Na ’n week van uitdagings met reënweer vir die sommige van die ander interhoër byeenkomste was die A-bond skole gelukkig om perfekte atletiekweer te beleef. Die son het byna heeldag geskyn, terwyl daar geen lastige wind was nie.

Op die baan is daar egter in die ware tradisie van dié spogbyeenkoms kookwater atletiek opgedis. Altesaam 21 nuwe rekords is tydens die aksie opgestel, terwyl nog een atleet ’n vorige rekord kon ewenaar.

Die standaard van die aksie word verder onderstreep deur die feit dat daar in 47 items prestasies behaal is wat meer as 900 punte op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd is, terwyl vier atlete hulself as wêreldklas bewys het met volpunte (1000) volgens dié tabel.

In laasgenoemde opsig was Menlopark se Megan Nieman (dogters o.16) waarskynlik die top atleet van die byeekoms. Sy het volpunte in die 100m hekkies (13,40s) én die 400m hekkies (58,64s) behaal, terwyl albei hierdie tye nuwe byeenkomsrekords agter haar naam beteken het.

Nieman is ook met die toekenning as Senior Victrix Ludorum beloon.

Nóg ’n Parkie, Janelle Kirkpatrick (dogters o.15), het voortgebou op haar gewoonte om op byna elke byeenkoms waaraan sy deelneem rekords te laat spat. Sy het rekord-tye in beide die 90m hekkies en die 300m hekkies aangeteken, terwyl sy volpunte op die APE tabel verdien het in eersgenoemde.

Hoewel Kiara Dell van Zwartkop deur Kirkpatrick geklop is in die 90m hekkies en met die silwer medale tevrede moes wees, was haar tyd van 12,49s ook wêreldklas en boonop ook 1000 APE punte werd.

Die Junior Victor Ludorum van die byeenkoms, Jaco van Dyk van Menlopark (seuns o.15), het ook twee rekords verbeter. Sy afstand van 19,64m in die gewigstoot was boonop ’n volle 1000 APE punte werd, terwyl sy 62,06m in die diskus self ’n wêreldklas prestasie is wat aan hom 984 APE punte verskaf het.

Van Dyk is in die gewigstoot opgedreun deur Dewald Roodt van Affies, wat óók 1000 punte verdien het én die vorige rekord oortref het met sy gooi van 19,31m.

Die sesde atleet wat ’n prestasie gelykstaande aan 1000 APE punte kon behaal, is Menlopark se Joshau Gerber, wat die diskus vir seuns o.16 met ’n nuwe rekord-afstand van 60,71m gewen het.

Hoewel Emil Els van Affies in Januarie vanjaar eers 16 jaar oud geword het, is hy ook al ’n bekende naam in atletiek kringe. Els is as Senior Victor Ludorum van die byeenkoms aangewys vir sy puik prestasies in die middelafstand items vir seuns o.16.

Hy het drie goue medaljes gewen in die 800m (1:51,94), 1500m (03:57,89) en 3000m (08:41,66), terwyl sy tye in eersgenoemde twee items nuwe rekords is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button