Affies klop Garsies, Klofies en Parkies skop Noordvaal Cup veldtogte af
’n Baie besige rugbyseisoen vir skole in Pretoria het reeds meer as ’n maand gelede afgeskop en met die vroeë-seisoen toernooie en Aprilvakansie-reekse afgehandel, het die kollig die afgelope naweek op ’n groot plaaslike derby en ook aksie in die Noordvaal Cup toernooi geval.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) en Hoërskool Garsfontein het albei tot dusver vanjaar belowende rugby in die vroeë seisoen gespeel, maar dit was Affies wat Saterdag hul nuutgevonde Pretoria-derby, wat vier jaar gelede ná ’n 12-jaar droogte hervat is, met 41-25 teen die Garsie Bere kon wen.
Met hierdie oorwinning op hul tuisveld, wat baie moeiliker was as wat die telling aandui, het die Wit Bulle sake gelyk gemaak met twee oorwinnings elk sedert die herlewing van dié skouspel in 2022.
Garsfontein het vroeg die inisiatief geneem op die aanval en ook eerste punte aangeteken via ’n strafdoel van Joshua Gouws na sewe minute se spel.
Die tuisspan het egter hul volgende rat gevind en ses minute later kon hulle spasie skep vir agtsteman Stefan McDonald om oor die doellyn te kom ná ’n puik dwasskop deur losskakel en kaptein, Ruben Groenewald.
Groenewald se doelskop was mis en Gouws se tweede strafdoel het aan die Bere na 20 minute weer die voorsprong gegee, maar dit sou die laaste keer wees wat hulle dié voordeel kon geniet.
McDonald het Affies se tweede drie geïnisieer, toe hy met ’n vinnige tikskop ná ’n strafskop sy loskopstut, Roal Kruger, kon oorstuur.

Foto: Riaan de Bruyn
Hierna het Affies die tempo nog verder opgejaag en die Garsie Bere het begin sukkel om al die gate toe te stop. Toe Affies se flank, Luan Potgieter, kort voor ’n halfuur se aksie oorduik vir sy span se derde drie, was die Bere amptelik in die moeilikheid, want om teen enige omgesukkelde Affie-span ’n telling te jaag, sal selfs die beste spanne in die land laat sweet.
Die Bere het hul bes gedoen en weer in die eerste 12 minute van die tweede helfte die inisiatief geneem, maar kon net nie afrond nie. ’n Verdoelde individuele drie deur Gouws het hulle hoop gegee in die 15de minuut, maar kort daarna het Affies weer oorgebeur met ’n voorspelerdrie.
Toe volg die opwindendste deel van die wedstyd en vier drieë – twee deur elke span – is in die laaste 12 minute van die kragmeting gedruk.
– In Johannesburg was Die Hoërskool Menlopark se losskakel, Andru Keun, sy span se held wat met skitterende skopwerk na die pale gesorg het dat sy span hul Noordvaal Cup (Beker-afdeling) ligaverpligtinge met ’n weg-oorwinning van 36-33 oor Helpmekaar Kollege begin.
Keun het 19 punte met die skopskoen aangeteken, terwyl Helpies vyf drieë teen die Parkies se drie gedruk het.
Hoewel Menlopark regdeur die wedstryd voorgeloop het, moes hulle in die laaste tien minute baie karakter wys om die Helpies in hul terugveg poging te stuit.
In hierdie opwindende wedstryd het Menlopark gewys dat hul sukkelfase iets van die verlede is en dat hulle beslis vanjaar ernstige aanspraakmakers in die gesogte Noordvaal Cup reeks kan wees.
Die Parkies het die reeks in 2019 gewen deur die einste Helpmekaar in die eindstryd te klop, maar het daarna ’n paar droeë seisoene beleef. Hou hulle egter dop in 2025.

Foto: Riaan de Bruyn
– Hoërskool Waterkloof se seisoen het met rukke en stote begin en hoewel hulle gesukkel het by die Noord-Suid toernooi, kon hulle tog twee weke gelede daarin slaag om die NWU Sportreeks trofee met Menlopark te deel, nadat hulle dié buurskool verlede jaar in die eindstryd geklop het.
Klofies moes die naweek Laeveld toe reis om hul veldtog in die Noordvaal Cup (Beker-afdeling) toernooi teen Hoërsool Nelspruit te open.
Die Nellies het ook gesukkel met twee nederlae by die Noord-Suid reeks en kon net sesde eindig in die NWU Sportreeks, maar Saterdag op hul tuisveld het hulle die Klofies met mening gepak.
Waterkloof het goed begin en daarna die Laevelders met skitterende verdediging verskeie kanse ontneem om punte aan te teken. Nadat die tuisspan halfpad deur die tweede helfte vir die eerste keer die voorsprong kom oorneem, het Klofies weer gaan druk en die vraag wat toe of hulle sou kon vasbyt teen Nellies se aanslag voorlangs.
Uiteindelik was dit twee drieë deur Nellies se linkervleuel, Tinyiko Silobane, wat die uitslag bepaal het en aan die tuisspan die oorwinning kon besorg.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
