Rekords en medaljes by dosyne vir Die Wilgers se toekomstige superster
’n 15-jarige skoolseun van Hoërskool Die Wilgers, het tydens vanjaar se skole-atletiekseisoen weekliks die rekordboeke herskryf en kenners is van mening dat hy die vermoë het om ’n superster op die atletiekbaan te word.
Hy het in Maart vanjaar eers 15 geword, maar Jean-Jacques Ellis, ’n Graad-9 seun van Hoërskool Die Wilgers, se persoonlike beste afstand wat hy vanjaar as verspring atleet behaal het, sou aan hom ’n sewende plek op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se senior kampioenskap besorg het.
Ellis het as tiener gekwalifiseer om aan die nasionale o.20 kampioenskap deel te neem en hy het vanjaar boonop die besondere prestasie behaal dat hy regdeur die seisoen onoorwonne was in die driesprong item, terwyl beamptes wat skole-atletiek se rekords opteken sy naam al toe-oë kan skryf, omdat hulle dit ná byna elke byeenkoms waaraan hy vanjaar deelgeneem het moes doen.
Kenners, waaronder sy ervare afrigter, George Stevens, meen dat dié uitstaande atleet se prestasies só konstant verbeter, dat 8m in die verspring en 17m in die driesprong waarskynlik binne sy bereik gaan wees voordat hy amptelik ’n senior atleet word.

Foto: Koos Venter
Stevens en Ellis se saamwerk-verhouding het reeds begin sedert laasgenoemde as 12-jarige leerling by Laerskkool Skuilkrans – waar dié jong atletieksensasie in 2023 ook onderhoofseun was – ernstig aan die verspring item begin deelneem het. Deesdae help Stevens, wat 45 jaar ondervinding het as spesialis atletiekafrigter, ook om atlete by Die Wilgers te slyp.
In sy laaste jaar op laerskool het Ellis beide die Gauteng rekord (6,08m) en Suid-Afrikaanse rekord (6,51m) vir seuns o.13 in die verspringput verbeter.
Op 15 staan hy reeds 1,91m in sy sokkies en met sy lenige lyf en bogemiddelde spoed (hy is ook ’n baie goeie naelloper) het hy vanjaar ’n besondere seisoen beleef. Nadat hy in sy skool se kleure skoonskip gemaak het in sowel die ver- as driesprong by al die byeenkomste waaraan hy deelgeneem het, moes Ellis ongelukkig saam met sy mede Wilgie-atlete die teleurstelling verwerk toe die Pretoria C-bond Interhoër gekanselleer is weens aanhoudende reën.
Daarna is hy by ASA se junior kampioenskap, wat in Kaapstad aangebied is, as nasionale o.16 kampioen gekroon in beide die verspring (6,97m) en driesprong (13,57m). Laasgenoemde is sy nuwe persoonlike beste afstand in hierdie moelike item.
’n Paar dae later was Ellis weer in Bloemfontein in aksie by die SA Skole kampioenskap, waar hy sy enigste silwer medalje van die seisoen in die spronge gewen het (verspring – 6,90m), maar wel in die driesprong (13,36m) as o.15 kampioen gekroon is.
Ellis droom reeds daarvan om sy land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Sy mikpunt is beslis vir Brisbane in 2032. Wie weet, dalk kan hy met ’n bietjie geluk die naelloop senasie Bayanda Walaza se prestasie herhaal en kwalifiseer om sy land reeds in 2028 by die spele in Los Angeles as tiener te verteenwoordig.

Foto: Verskaf
Die jong ster is so ernstig oor sy atletiekloopaan dat hy reeds rugby en krieket opsy geskuif het, ten spyte van die feit dat hy steeds baie lief is vir dié sportsoorte en dat hy daarin uitgeblink het. Hy het verlede jaar nog as Graad-8 seun vir die skool se eerstespan krieket gespeel.
Hy is op sy jong ouderdom besonder gefokus en hardwerkend. Daarby is Ellis ook, soos meeste puik sportmanne, skynbaar geseën met baie goeie gene. Pa Jacques was op sy dag self ’n uitstaande sportman, terwyl ousus Abigail ook op die atletiekbaan uitblink én spog met provinsiale kleure in krieket. Sy was die afgelope seisoen een van die uitblinkers in die Titans se o.16 dogters-span as veelsydige speler.
Onthou dus die naam, Jean-Jacques Ellis, want as alles volgens plan verloop, gaan atletiekliefhebbers nog baie van hierdie lenige ver- en driesprong sensasie hoor in die toekoms.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
