Garsies oorrompel Klofies, Menlo klop Nelspruit oortuigend in Noordvaal Cup reeks
Terwyl Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan die afgelope naweek gewys het dat hulle nie maklik van hul troon as kampioen in die Beker afdeling van die Noordvaal Cup toernooi gestamp gaan word nie, het Menlopark hul aanspraak onderstreep met ’n indrukwekkende oorwinning.
Die verdedigende kampioen in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Garsfontein, het Saterdag op hul tuisveld met ’n briljante vertoning teen hul bure en aatstvyand, Hoërskool Waterkloof, gewys dat hulle beslis ’n goeie kans moet hê om vanjaar slegs die vyfde skool in die 105-jarige geskiedenis van dié toernooi te word om dit drie jaar agtereenvolgens te wen.
Dis moeilik om te glo dat die Garsie Bere gestuit kan word as hulle vir die res van die seisoen kan voortbou op die kliniese – en tog opwindende – rugby waarmee hulle die Klofies Saterdag met 53-21 oorrompel het.
Waterkloof het gladnie ’n swak span nie, maar hulle kon eenvoudig nie byhou by die tempo wat Garsfontein van die eerste minuut van die wedstryd af gehandhaaf het nie, terwyl die tuisspan in die proses hul foute tot die minimium kon beperk en veral in die tweede helfte byna elke moontlike geleentheid wat hulle geskep het, kon afrond.
Waterkloof se seisoen het tot dusver wisselvallig verloop, maar na hul goeie vertonings by die Wildeklawer toernooi in Kimberley, was daar hoop by hul ondersteuners dat hulle kon verras en verlede jaar se nederlaag teen die Garsie Bere in die eindstryd van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling sou kon omkeer.
Hiervoor was JP Pieterse en sy makkers egter nie te vinde nie. Hul eerste drie is gedruk na net ’n minuut se spel en daarna was die besoekers skrykdeur onder druk. Teen rustyd het die Garsies reeds die bonuspunt vir vier drieë in die sakkie gehad en as hul skoppers beter gekorrel het, kon die telling heelwat hoër gewees het.
Dis altyd moeilik om uitblinkers in so ’n wedstryd uit te sonder, maar Garsies se buitesenter Xian Erasmus was skitterend, soos sy vier drieë bewys, terwyl skrumskakel Derrick Kuhn sy eie hoë standaard gehandhaaf het en self twee keer agter die doellyn gaan kuier het.
Junade Pasensie was ook ’n doring in die Klofies se vlees met sy aanvallende spel uit die heelagter posisie, terwyl die span se voorry telkens die regterskouer kon bewerk om vir die agterspelers spasie te skep.
Op haker het Justin Blom nog genoeg energie oorgehad het om meer as sy deel in ander aspekte van die spel te doen.
Enige span wat hierdie trop Bere van Garsfontein wil onttroon vanjaar, sal eerstens hul indrukwekkende skrumwerk moet troef en daarna moet kan byhou by die tempo as die Turkoois golf eers begin rol met hul aanvallende rugby, waarin voor- en agterspelers skitterend saamwerk.
– Die Hoërskool Menlopark se eerste rugbyspan het Saterdag op hul tuisveld weer beklemtoon dat hulle vanjaar ’n harde neut gaan wees om te kraak in die Noordvaal Cup se Beker afdeling.
Die Parkies het hul onoorwonne status vir die seisoen behou deur Hoërskool Nelspruit oortuigend met 40-17 te klop en in die proses het hulle ses drieë teen die Laevelders ingeryg vir ’n bonuspunt oorwinning.
Hoewel die tuisspan van die begin af aanvallende rugby gespeel het, het hulle ’n paar kanse verbrou met haneerfoute op kritieke tye. Die eerste drie van die wedstryd is eers in die laaste sekondes van die eerste helfte gedruk, toe Menlo se flank, Nathan du Plessis 50 meter ver genael het om onder die pale oor te duik, nadat hy ’n aangee van Nelspruit onderskep het. Die rustyd telling was 7-3 in Menlo se guns.
Ná die omdraaislag het dinge egter in plek begin val vir die Parkies en binnesenter Dylan Stumke se eerste drie het die telbord-druk op die besoekers laat toeneem.

Foto: Menlo Rugby Facebook blad
Kort nadat Nelspruit hul eerste drie kon aanteken, het Stumke se tweede drie weer die gaping gerek. Effektiewe dryfspel van Menlo se voorspelers het dié drie moontlik gemaak.
Nelspruit se skrumwerk het gelei tot hul tweede drie, nadat ’n goeie regterskouer die spasie vir die agterlyn geskep het. Menlopark kon egter daarna telkens geleenthede wat opgeduik het in punte omskep om uiteindleik redelik maklik te wen.
Is hierdie span van Menlopark werklik ernstige aanspraakmakers op glorie in vanjaar se Noordvaal Cup toernooi? Wel, op 24 Mei sal hulle dié vraag self kan beantwoord wanneer hulle in nog ’n Pretoria-Oos derby op hul tuisveld die Garsie Bere moet aanvat.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.













