Klofies bons terug teen Parkies in Noordvaal Cup toernooi
Hoërskool Waterkloof het Saterdag in hul Noordvaal Cup (Beker afdeling) wedstryd teen hul westelike bure, Hoërskool Menlopark, met ’n oorwinning gewys dat hulle nog lank nie afgeskryf kan word in die wedloop na die uitspeelrondtes in dié toernooi nie.
Dit wil voorkom of Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan hul beste vertonings van die seisoen telkens vir hul tweestryde met hul ánder bure van oorkant die N1-snelweg bêre.
Net toe sommige doemprofete die Klofies wou begin afskryf ná verlede week se pakslae teen Hoërskool Garsfontein, het Cobus van Dyk se manne – soos telkens in die verlede – hul karakter gewys en teruggebons om Hoërskool Menlopark die afgelope naweek op hul tuisveld in Erasmuskloof met 27-19 te klop in ’n Noordvaal Cup (Beker-afdeling) ligabepaling.
Dit was Menlopark se eerste nederlaag van die seisoen, nadat die twee spanne ’n maand gelede gelykop (23-elk) gespeel het in die eindstryd van die NWU Skolereeks.
Nadat Waterkloof, verlede jaar se naaswenner in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling, hul aanslag vanjaar met nederlae teen Nelspruit en Garsfontein afgeskop het, was Ronan Bastiaanse en sy makkers met hul rug teen die muur voor Saterdag se Pretoria-Oos derby.
Dié kragmeting het met ’n intense armdruk-stryd begin en die eerste punte het eers na sowat 15 minute se spel gekom toe Leskin Samuels, buitesenter van die Parkies, sy span se rekening met hul eerste drie geopen het.
Uiteindelik was daar, soos ’n maand gelede, bittermin te kies tussen die twee spanne, wat albei drie keer gaan druk het. Die verskil was Bastiaanse se meer akkurate skopwerk. Hy het al drie sy span se drieë verdoel, terwyl hy ook met twee strafdoele suksesvol was.
Menlo se regtervleuel, Bladen Peterson, het kort voor rustyd gedruk ’n enkele strafdoel van Bastiaanse het die telling op 3-12 in die besoekers se guns laat staan toe die spelers gaan water drink het.
Klofies het na rustyd eerste punte aangeteken om die gaping op die telbord te verklein, toe vaskopstut Jedri Swart oorgebeur het na verskeie fases in die rooi gebied.

Foto: Riaan de Bruyn
Menlo het egter weer toegeslaan met ’n drie deur haker Declan Pelser vanaf ’n dryfbeweging ná ’n lynstaan. Hoewel die doelskop skeefgetrek het, was die druk daarna weer op Waterkloof.
Bastiaanse se tweede strafdoel het die verskil na minder as sewe punte laat krimp en flank Dawid Prinsloo se stormram drie ná ’n tikskoppie kort voor die doellyn het die kaptein in staat gestel om sy span vir die eerste keer in die wedstryd te laat voorloop met sy suksesvolle doelskop.
Met 13 minute speeltyd oor het die spanning opgebou, maar albei spanne het positief probeer bly deur aanvallende rugby te speel.
Klofies het in hierdie tydperk baie karakter gewys met rotsvaste verdediging en toe hulle in die doodsnikke van die wedstryd ’n kans kry, het haker Ruan Jacobs ’n 40 meter beweging, wat hy self begin het, met ’n drie afgesluit, nadat skrumskakel Zack Jordaan ook ver genael het.
– Intussen gaan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se tien jaar wendroogte teen Grey Kollege van Bloemfontein voort, nadat die Vrystaters dié jaarlikse tweestryd met 42-37 op hul tuisveld in die Rosestad gewen het.
Die wedstryd was oudergewoonte ’n fees van skolerugby op sy beste en met ’n bietjie geluk en beter korrelwerk na die pale kon Affies hierdie een deurgetrek het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
