Local sportSchool sportSport

Top Centurion skole sorg vir eersteklas aksie in ‘Classic Clash’ sportfees

Die Classic Clash sportfees tussen twee van Centurion se top hoërskole het die afgelope naweek eersteklas aksie op die sportterrein van Hoërskool Eldoraigne opgelewer.

Dit was die afgelope naweek weer tyd vir die jaarlikse ‘Classic Clash’ sportfees in Centurion, waartydens die twee buurskole weerskante van die ou Johannesburg-pad, Hoërskool Edoraigne en Hoërskool Zwartkop mekaar op die sportveld kon pak in wintersportsoorte soos rugby, netbal en hokkie.

Ná ’n dag van aksie in al drie hierdie kodes op Edoraigne se sportgronde, was daar nie plek vir ’n muis rondom die rugbyveld toe die twee skole se eerste rugbyspanne mekaar as hoofdis van die dag sou aanvat nie.

Dit lyk werklik of 2025 Zwartkop se jaar kan wees op die rugbyveld en dat dié skool se aandele in wintersport kodes besig is om in pas sal kom met hul prestasies op die atletiekbaan. Zwarries se eerstespan het Saterdag ’n nuwe standaard gestel, deur hul bure behoorlik af te stof met ’n reuse oorwinning van 59-10.

Hoewel die telling teen hulle groot was, het Eldoraigne aanhou veg tot die einde. Die groot verskil tussen die twee spanne was egter hul afronding en die feit dat die Zwarries basies al die belangrike aspekte oorheers het, terwyl die tuisspan nie by hul tempo kon bybly nie.

Cameron Killian en sy makkers moes net té veel verdedig, terwyl hul afronding soms gelol het wanneer die geleenthede opgeduik het.

Daarteenoor het Zwartkop se senters en lostrio doelgerig die voordeellyn aangeval. Sodoende het die gapings oopgegaan vir ’n paar puik drieë, terwyl hul oorheersing voorlangs veral in die tweede helfte resultate gelewer het met drieë vanaf dryfbewegings.

Die besoekers het van die afskop af die druk op Eldoraigne toegepas. Hoewel die Eldo Drake eerste punte aangeteken het met ’n strafdoel, het die Zwarries se Vikings vyf minute later met Regan Blignaut se eerste drie die voortou geneem en daarna eenvoudig voortgestoom.

Blignaut, wat vir vier van hul nege drieë verantwoordelik was, was Zwartkop se groot held. Dié seun is ’n haker in die spreekwoordelike boerewors-tradisie en hy behoort beslis dopgehou te word deur die Blou Bulle se Cravenweek keurders.

Heelagter Shayden Botha was ook gevaarlik uit die agterste vesting, terwyl die skakelpaar, Luan Jansen van Rensburg en Tilon Baron, sake goed gedikteer het agter hul puik pak voorspelers.

Nouja, wie gaan die Zwarries vanjaar op die rugbyveld stuit? Saterdag se oorwinning was hul tiende agtereenvolgens vanjaar. Dié onoorwonne span kompeteer vanjaar in die strawwe Plaat-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi en ná Saterdag se vertoning, asook oorwinnings oor sterk skole soos Klerksdorp, Hugenote, Ligbron en Oakdale vroeër, kan hul ondersteuners met reg groot verwagtinge koester.

Edoraigne het hul veldtog in die Bowl-afdeling verlede week met ’n oorwinning oor Jeugland (Kempton Park) afgeskop en daar is dus nog ruim geleentheid om hul seisoen weer op koers te kry.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button