Garsies klop Menlo met sterk eindpoging
Die Garsie Bere het hul tweede Pretoria-Oos derby teen nog een van hul buurskole die afgelope naweek ná ’n taai stryd gewen en daardeur hul posisie op die punteleer van die Beker afdeling in die Noorvaal Cup toernooi verstewig.
Hoërskool Garsfontein se Bere is steeds op koers om hul status as Noordvaal Cup kampioen (Beker-afdeling) te behou, nadat hulle die afgelope naweek in ’n Pretoria-Oos skole derby Die Hoërskool Menlopark met 40-27 geklop het.
Dit was Menopark se tweede agtereenvolgende nederlaag in die Noordvaal Cup toernooi vanjaar.
Die Parkies, wat Garsies se Bere in 2019 laas ore kon aansit, se ondersteuners was vooraf versigtig optimisties dat hul span dit vanjaar weer kan doen. Hulle het immers ’n skitterende seisoen tot dusver beleef en was onoorwonne tot verlede week se nederlaag teen Waterkloof.
Nadat die twee spanne Saterdag stadig uit die blokke was het die tuisspan die aanvanklike armdruk-stryd beëindig deur eerste die doellyn te haal, toe hul woelige flank, Tiaan Boshoff, vanaf ’n lynstaan weggebars het om te druk.
Die besoekers het hierna hul bekende direkte aanslag begin toepas, waarmee hulle op klassieke wyse skitterend aanval, terwyl die bal om die beurt deur voor- en agterspelers oor die voordeelyn geneem word. Drie minute later het heelagter Junade Pasensie afgerond met sy eerste drie.
’n Geelkaart aan Garsies se vleuel, Drewyn Baron, ná ’n onwettige laagvat, het die tuisspan laat bloed ruik en kort daarna is heelagter Teinhardt Herbst oor vir hul tweede drie.
Garsfontein het in dryfbeweging voor hierdie drie ook ’n groot terugslag beleef toe hul kaptein en vaskopstut, Luan (Proppie) van den Berg beseer is en die veld moes verlaat. Sonder hom op die veld het Menlo baie beter in die vaste skrums begin vaar.
Baron was skaars terug in aksie toe hy die kans kry om te vergoed vir sy flater en nadat hy en Pasensie goed gekombineer het, is hy in die hoek oor vir Garsies se tweede drie.
’n Strafdoel het Menlopark teen rustyd met 15-14 laat voorloop.
Die tempo van die wedstyd is na die omdraaislag deur beide spanne opgejaag en ses drieë – vier vir die Bere en twee vir Menlo – is in dié 35 minute gedruk. Garsies het aanvanklik ’n fase van ‘een vir my en een vir jou’ ingelui, maar die tuisspan se drieë het halfpad deur dié tweede skof opgedroog, terwyl die besoekers die laaste kwartier oorheers het en nog twee keer oor die doellyn is.
Menlo het nog tot 15 minute voor die eindfluitjie voorgeloop op die telbord en dié span kan beslis nie na twee nederlae afgeskryf word as aanspraakmakers op ’n plek in die uitspeelrondtes van die toernooi nie.
– Hoewel hulle onoorwonne is na drie wedstryde, is die Bere steeds tweede op die punteleer van die toernooi, aangesien hulle twee wedstryde minder as die span bo-aan dié leer, Helpmekaar Kollege, gespeel het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.














