Carltonbeker 2023 – dis valbyl tyd
Die lot van die drie klubs wat veg om in die derde en vierde plekke op die Carltonbeker punteleer te eindig sal eerskomende naweek bepaal word, wanneer ses van die agt spanne in die kompetisie hul ligaverpligtinge afhandel.
Die spanning sal eerskomende naweek vir ten minste twee klubs breekpunt bereik wanneer ses van die agt spanne in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi hul ligaverpligtinge afhandel.
Met die Northam Rhinos en Naka Bulle wat reeds verseker is van die eerste twee plekke op die punteleer, bly die stryd vir die derde en vierde plekke steeds tussen Tuks, die Wolverines en Centurion.
Na afloop van die afgelope naweek se wedstryde is daar slegs drie punte verskil tussen hierdie drie spanne op die punteleer. Tog lyk sake beter vir Tuks (tans op 41 ligapunte), aangesien hulle reeds in die derde plek lê en twee ligabepalings oor het om punte te versamel, terwyl die Wolverines (39 ligapunte) en Centurion (38 ligapunte) se ligabepalings eerskomende naweek afgehandel word.
Tuks hoef inderdaad slegs in een van sy laaste twee ligawedstryde volpunte te verdien om te kwalifiseer vir die halfeindrondte. Die interessante is dat Tuks eerskomende naweek juis teen die Wolverines speel en ’n oorwinning vir die studente in hierdie wedstryd, kan die nuweling van Skeerpoort se doppie klink.
Die studente het boonop nog ’n kans om hul derde plek op die punteleer te verseker, wanneer hulle op 19 Augustus die liga-seisoen teen die Grizzlies van Tuine afsluit. Dié wedstryd kon vroeër weens Tuks se verpligtinge by die Universiteite Sport SA (USSA) toernooi nie plaasvind nie.
Centurion speel eerskomende naweek in hul laaste ligabepaling teen die Grizzlies. Hoewel die manne uit die weste vanjaar onder leiding van hul nuwe afrigter, Mick Helena, hulself kon handhaaf en gewys het dat hulle in hierdie liga kan kompeteer, is Centurion tans op goeie vorm en behoort dié verdedigende kampioen volpunte uit hierdie wedstryd te kry.




As die Wolverines dus teen Tuks verloor (ongeag die hoeveelheid bonuspunte wat hulle verdien), sal Centurion vierde eindig, selfs al wen hulle sonder ’n bonuspunt.
As Schalk van Heerden se Wolwe egter daarin slaag om Tuks te klop én vier drieë in die proses druk, is Centurion se seisoen verby.
– Die afgelope naweek het Northam se Rhinos vir Tuks en Centurion ’n guns gedoen deur die Wolverines met 24-5 te klop. Met hierdie bonuspunt-oorwinning het Northam verseker dat hulle steeds bo aan die punteleer bly.
– Hoewel Harlequins die afgelope naweek met 10-22 teen Tuks vasgeval het, sal die Blokkiestruie se teleurstellende seisoen tot dusver baie meer betekenis kry as hulle die Northam Rhinos eerskomende naweek in hul laaste wedstryd kan klop. Sodoende sal hulle nie net aan Naka Bulle die geleentheid bied om eerste op die punteleer te eindig nie, maar kan hulle ook ’n geskiedkundige eerste Carltonbeker eindstryd buite die grense van Pretoria verhoed.
As die Rhinos Harlequins klop en ook hul halfeindstryd wen, sal hul teenstanders Bosveld toe moet reis om op Northam se tuisveld in die eindstryd te gaan speel.
– Naka Bulle, wat die Grizzlies van Tuine die afgelope naweek met 61-39 verslaan het, behoort eerskomende naweek redelik maklik volpunte te verdien wanneer hulle die sukkelende Pretoria Rugbyklub in hul laaste ligawedstryd aandurf.
– Pretoria het Saterdag teen Centurion weer pakslae gekry, toe Albert Bakker en sy spanmaats elf drieë teen hulle ingeryg het om met 63-17 te wen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.