Pieties spog met groot talent
Hoërskool Pietersburg het verlede Donderdag behoorlik gespog met hulle uitvoerende en beeldende kunstenaars se sang- en dramatalente.
POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg het verlede Donderdag behoorlik gespog met hulle uitvoerende en beeldende kunstenaars se sang- en dramatalente.
Regardt Stroebel en Elizma le Roux het as seremoniemeesters opgetree en het die gehoor in die palms van hulle hande gehou met hulle spitsvondige kommentaar.
Die talentaand, wat ook as praktiese eksamen gedien het vir die skool se gr. 8 dramaleerlinge, was ‘n inisiatief van die skool se leerlingraad van 2014, met die ondersteuning van die beheerliggaam. Leerders het vooraf oudisies afgelê en die beste 17 vertonings is vir die talentaand gekies.
Die program is om 19:00 afgeskop met Bradley Hartmann wat die gehoor behoorlik op die punte van hul stoele gehad het met sy Hip Hop vertoning.
Sang- en drama-uitvoerings asook instrumentele vertonings het kleur en geur aan die aand verleen. Chante Jardim het die aand behoorlik opgekikker met haar skreeusnaakse eenvroustuk, Dis Ekke.
Die gr. 8 dramaleerlinge en hulle onder-wyseres, Arouna van der Walt, het hulle staal gewys met hulle toneelstukke, Die Hoogste Bome Vang die Meeste Wind en Eye of the Tiger.
PHS bemarkingsbestuurder, Anna-Marie Schoeman, het vertel dat hierdie die eerste jaar was wat die skool drama as vak aangebied het. Die wins van die aand sal net so gebruik word vir volgende jaar se produksies.
“Ons het nie ‘n begroting gehad vir vanaand nie. Die kinders het regtig alles gedoen om dit wat tot hulle beskikking was te gebruik en so die produksie suksesvol op die planke te bring,” het sy gesê.
















