Local NewsNews

50 wonderlike jare vir egpaar

'n Uitgesoekte groep gaste, bestaande uit familie en nabye vriende, het Vrydagaand saamgekom om Robert en Naomi de Jager se goue bruilof saam met hulle te vier by die Pie-tersburg klub.

POLOKWANE – ‘n Uitgesoekte groep gaste, bestaande uit familie en nabye vriende, het Vrydagaand saamgekom om Robert en Naomi de Jager se goue bruilof saam met hulle te vier by die Pie-tersburg klub.

Die egpaar het die knoop 50 jaar gelede op ‘n pragtige sonskyndag in die Moedergemeente van die Hervormde Kerk in Polokwane deurgehaak.

“Dit was maar ‘n gesukkel om getroud te kom,” vertel Naomi. “Ons het by opponerende koe-rantgroepe gewerk: Robert by die Noord-Transvaler en ek by Review. Gelukkig is Robert ‘n pos aangebied by Review en hy het dit aanvaar.”

Die onthaal is gehou by die ou Great North Road Hotel en baie van die gaste was besigheidsmense van die dorp wat die egpaar deur hulle werk by die koe-rant leer ken het. Robert se pa het van Oudtshoorn gekom om die geleentheid by te woon, maar sy ma kon nie saamkom nie, want sy moes die familiebesigheid, ‘n kruidenierswinkel, se deure oophou.

Van die vriende wat Vrydag die onthaal bygewoon het was Tjol en Petrita Lategan asook die predikant wat hulle getrou het en reeds oorlede is se vrou, Bets Booysen. Bets se man het saam met Naomi grootgeword en sy het ook orrel gespeel op die troue.

Naomi se oë blink as sy vertel van hulle wittebrood in ‘n hotel by die see in Durban. ‘n Volle sewe dae lank kon die paartjie daar ontspan.

“Saans was daar ‘n man wat klavier gespeel het tydens aand-ete by die hotel. Een aand het hy Maanlig op die Water gespeel en toe ek uitkyk, het die maanlig so silwer op die see geskyn. Ek sal dit altyd onthou.”

Hul vennoot by Review, Harry Cooper, het ‘n telegram ontvang van die paartjie waarin hulle vir hom vertel het hoe nice dit by die hotel was en hy het, nie links nie en seker lekker jaloers, vir hulle ‘n telegram terugge-stuur: “come back you fools, it’s nice anywhere.”

‘n Hoogtepunt van die huwelik was die geboorte van hul eer-ste baba, ‘n dogter, en daarna die geboorte van hulle seun.

Die eienskappe van Robert wat Naomi aangetrek het en wat sy steeds bewonder is sy nederigheid, standvastigheid, verantwoordelikheidsin en hardwerkendheid. Vir hom is Naomi sag en sexy en mooi.

” Daar was moeilike tye ook, geen huwelik het net maklike tye nie,” vertel Naomi. “Partykeer het ons kwaad vir mekaar gaan slaap ook, maar in die oggend was dit oor. Soggens het ons altyd saam by die Here gesit. Dit was ‘n samebindende faktor in ons huwelik en is dit steeds. Noudat ons ouer is baklei ons nie meer nie. Ek kan nie sonder hom nie en hoop Jesus kom my voor hom haal. Ek haal met hom asem.”

Robert onthou ook altyd haar verjaarsdag en hulle troudag: op haar verjaarsdag en met Kersfees kry sy parfuum en op hulle trou-dag ‘n kaartjie en blomme.

Een ding is die twee dit eens: as hulle weer kon kies, sou hulle mekaar kies.

Related Articles

Back to top button