Ondersteun hierdie blom by die Blommiefees
Na twee operasies moet Bernadine R70 000 mediese skuld afbetaal. Haar suster en vriende help haar om hierdie skuld te delg deur verskeie byeenkomste en spesiale geleenthede te organiseer.
POLOKWANE – Bernadine Hugo (28) se bynaam is Blom en sy het kanker.
Na twee operasies moet Bernadine R70 000 mediese skuld afbetaal. Haar suster en vriende help haar om hierdie skuld te delg deur verskeie byeenkomste en spesiale geleenthede te organiseer.
Bernadine sou op 26 April getrou het, maar al haar spaargeld en die geld vir hul wittebrood is reeds gebruik om mediese kostes te dek. Sy het ook by familie geld geleen. Sy begin ook op 7 April met chemoterapie en bestraling, en weet nie hoe sy sal voel en of sy dalk haar hare sal verloor voor haar troue nie.
Sy en haar verloofde, Gert du Preez, beoog nou om die troue na Augustus uit te stel.
Saterdag word die Blommiefees by die Soetdorings Buiteklub gehou om geld in te samel vir Bernadine. Dit is die ideale geleentheid vir ouers om hul kinders tydens die skoolvakansie op ‘n uitstappie te neem en self die dag te geniet.
Nege kunstenaars sal gaste vermaak. ‘n Modelkompetiesie aangebied deur I-Models en Hugo Photography, ‘n potspelkompetisie asook ‘n potjiekoskompetisie beloof om die dag opwindend te maak vir oud en jonk. Boonop is daar hope oulike pryse te wen soos ‘n lekker wegbreeknaweek en nog baie ander pryse.
Barney, Winnie the Pooh en Bunny-karakters gaan lekkers uitdeel aan kinders by hierdie fees. Die kinders se gesiggies kan geverf word en ballondiere sal te koop aangebied word.
‘n Klein toegangsfooi word gevra ten bate van die fondsinsameling vir Bernadine. Kosstalletjies sal smulpape se honger stil gedurende die dag.
Bernadine is in Desember verlede jaar met servikskanker gediagnoseer na ‘n papsmeer. ‘n Dag voor Kersfees is sy opgeneem in Mediclinic Limpopo vir ‘n biopsie. Die uitslag was hartverskeurend: dit was kanker.
Bernadine is deur die ginekoloog verwys na ‘n professor in Pretoria wat mikrochirurgie kon doen, wat nie plaaslik gedoen kon word nie. ‘n Algehele histerektomie moes gedoen word en tydens ‘n vyf-ure lange operasie is kliere wat aan haar baarmoeder en blaas vasgegroei het, ook losgesny.
Waar sy oorspronklik net twee dae in die hospitaal sou bly, moes sy ‘n ekstra vyf dae bly. Van die kliere was ook kankeragtig. ‘n Stent is tussen haar niere en blaas geplaas en Bernadine moes bykans ‘n maand met ‘n kateter loop.
Tog bly dié jong vrou positief en glo sy dat sy volkome sal herstel. Sy glo ook dat daar iewers vir haar ‘n spesiale kindjie wag wat die Here sal voorsien.
By haar werk, Turbo Power, waar sy al ses jaar lank werk, kry sy wonderlike ondersteuning van haar werkgewer.
“Ek is so gelukkig, ek kan nog gesond word. Daar is soveel mense wat ek gesien het wat sieker is as ek, ” sê die positiewe donkerkop.
Vir enige navrae, besprekings vir stalletjies en inskrywings vir kompetisies by die Blommiefees kan Marcia gekontak word by 072 482 3468.



