Kanker eis ‘sagte mens’
Slegs 'n paar dae na haar 44ste verjaardag het Brenda Beeslaar haar stryd teen kanker verloor.
Slegs ‘n paar dae na haar 44ste verjaardag het Brenda Beeslaar haar stryd teen kanker verloor.
Beeslaar is sewe jaar gelede ge-diagnoseer met breinkanker. Sy het ‘n gewas aan die regterkant van haar kleinbrein gehad.
Die 44-jarige het verlede Sondag verjaar en het saam met haar ma, dogter, haar beste vriendin en haar ma se vriendin gaan tee drink by haar gunsteling koffiewinkel, Blossoms, op ‘n plot in Myngenoegen.
Twee dae na haar verjaardag, verlede Woensdag, het Beeslaar in ‘n koma gegaan. Sy was by die huis toe dit gebeur het en is per ambulans na die Pretoria Oos Hospitaal geneem. Die volgende dag (Donderdag) het Beeslaar en haar man, Frikkie, hul 20ste huweliksherdenking gevier. Sy is om 17:30 Saterdagmiddag oorlede.
“My kind was ‘n sagte, wonderlike en liefdevolle mens. Sy het baie gou in mense se harte gekruip en ek sal haar nooit vergeet nie. Sy was ‘n modelkind; baie stil, rustig en netjies. Sy was nie baie kunstig of sportief nie, maar het baie omgegee vir haar medemens en familie,” het haar ma, Corrie Faver, gesê.
Frikkie het in ‘n brief aan sy vrou gesê hy weet nie waar om te begin om afskeid te neem nie.
“My vrou het altyd net die beste in my raakgesien, al het ek haar hoe kwaad gemaak.
Sy was nie net goed vir my nie, maar het ook ons kinders oneindig liefgehad en dit is wat ons die meeste gaan mis.
Haar manier van lewe was vir almal ‘n voorbeeld en sy het letterlik honderde mense se lewens aangeraak,” het Frikkie gesê.
Brenda se 13-jarige dogter, Melissa, het in ‘n brief aan haar ma gesê dat haar ma ‘n engel sonder vlerke op aarde was.
“My ma was vir my die mooiste mens en sy was my rolmodel; sy sal altyd wees.
Sy was nooit iemand wat gekritiseer het nie, sy was liefdevol en sterk in haar geloof. Ek dink almal van ons kan opkyk na haar en sê sy is ‘n ware Christen.
“Ons almal gaan haar mis maar tog sien ons uit na daardie dag wat Jesus ons kom haal en ons vir altyd by Hom sal hou saam met al ons geliefdes,” sê Melissa.
Brenda se agtjarige seun, Rynhardt, het in sy brief aan sy ma gesê hy weet dat dit goed gaan met sy mamma daar in die hemel. “Mamma ek was vreeslik lief vir mamma en is nogsteeds net so lief vir mamma. Ek weet dit gaan goed met mamma daar in die hemel,” sê Rynhardt.
Die familie bedank al hulle vriende en inwoners vir hul ondersteuning in hierdie tyd van rou, asook die Pretoria Oos Hospitaal en sy personeel, dr. Pieter Slabbert en die AGS Moedergemeente.
‘n Gedenksdiens word vandag (Donderdag) om 11:00 by die AGS Moedergemeente op die hoek van Jorissenstraat en Potgieterlaan gehou. Beeslaar laat haar pa, ma, broer, man, seun en dogter agter.



