Local NewsNews

‘Sy plekkie is leeg’

Walter Badenhorst (15), wat verlede Saterdag ernstig in 'n kwadfietsongeluk beseer is, het Vrydagmiddag in Medi Clinic Limpopo weens die aard van sy beserings gesterf.

POLOKWANE – Walter Badenhorst (15), wat verlede Saterdag ernstig in ‘n kwadfietsongeluk beseer is, het Vrydagmiddag in Medi Clinic Limpopo weens die aard van sy beserings gesterf.

Die gr. 9-leerder van Curro Heuwelkruin was aan lewenssteunende masjiene gekoppel nadat twee kwadfietse op sy ouers se plaas kop-aan-kop gebots het en hy ernstige breinbeserings opgedoen het.

Die bestuurder van die tweede kwadfiets word in dieselfde hospitaal se hoësorgeenheid behandel.

Dokters het Walter verlede week reeds breindood verklaar, maar vir sy ouers Naas en Ezelda, was die besluit om die masjiene af te sit nie een wat hulle sou maak nie.

“Ons het almal op ‘n wonderwerk bly hoop en niemand wou glo dat Walter nie meer by ons sou wees nie.

“Daar is nie woorde om die seer en die leemte te vul nie. Ons vra almal se gebede en ondersteuning vir die gesin en familie in hierdie tyd van leed,” het ‘n vriend van die gesin, Kobus du Preez, aan Review gesê.

Teen Vrydagmiddag wou Walter se lyf nie meer nie en het hy beswyk.

Hy was bekend as Chippie onder sy vriende omdat sy ouers ‘n aartappelplaas besit. Hy was ‘n kranige rugbyspeler wat vir sy skool se eersterugbyspan uitgedraf het.

Sy vriende het aan Review vertel dat hulle hom baie gaan mis.

“Daar gaan nie einde wees aan die seer en verlange nie. Hy het almal aangeraak en kon met almal vriende maak. Ons verstaan nie waarom die dinge gebeur nie, maar ons glo en weet dat Liewe Jesus die beste weet.

“Walter gaan vir altyd ons Simba Chippie bly al is hy nie by ons nie.” het Kaitlin van Zyl, ‘n vriendin van Walter gesê.

Na bladsy 2

Veronica Badenhost, ‘n familielid, het aan Review gesê dat die gesin die ondersteuning van die gemeenskap baie waardeer. “Daar is nie woorde om te beskryf hoe familie en vriende die gesin deur hierdie moeilike tyd gedra het nie. Ons wil baie dankie sê aan die almal wat vir ons gebid het, SMS-boodskappe gestuur het, eetgoed aangedra het en ons op elke denkbare manier bygestaan het,” het sy gesê.

Walter word môre (Woensdag) vanuit die NG Kerk-Noord begrawe. Die diens begin om 11:00. Hy laat sy ouers en sy suster, Essie, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button