Beste bra hulle s’n
Michelle Engelbrecht, Marlene Brandt en Marianna Malan van Exclusive Properties is die wenners van 'n splinternuwe Bernina naamasjien.
POLOKWANE – Michelle Engelbrecht, Marlene Brandt en Marianna Malan van Exclusive Properties is die wenners van ‘n splinternuwe Bernina naamasjien.
Hulle het dié masjien gewen met ‘n bra wat hulle vir Kansa se braveiling ten bate van borskankernavorsing opgedollie het en wat die hoogste prys behaal het. Dié bra is vir R1 050 op die veiling verkoop.
Die wenners se prys is Maandag by die Bernina-winkel in die stad aan die wenners oorhanding.
Engelbrecht sê die projek was ‘n spanpoging en as ‘n span gaan hulle die naaimasjien gebruik. “Ons gaan goeie werk vir dit kry. Ons is nog nie seker wat nie en moet nog ‘n dinkskrum hou om te besluit waarvoor ons dit gaan gebruik,” sê sy.
Die inisiatief het in November begin met ‘n bra-ontwerpkompetisie wat op 7 Maart gesluit het.
Deelnemers het die geleentheid gekry om ‘n bra mooi te maak en by Bernina in te skryf vir die kompetisie. Hierdie bra’s is by die veiling opgeveil ten bate van Kansa.
‘n Totaal van 30 bra’s is opgeveil en die bra wat die meeste geld geïn het, se ontwerper het ‘n Bernina naaimasjien gewen.



