Local NewsNews

Braaimeester bring flair na die vuur

Limpopo se braai-ambassadeur, Dirk Liebenberg, beplan om in November die wêreld-braaikampioenskappe by te woon in Tennessee in die VS.

POLOKWANE – Limpopo se braai-ambassadeur, Dirk Liebenberg, beplan om in November die wêreld-braaikampioenskappe by te woon in Tennessee in die VS.

Dirk is wyd bekend as een van Suid-Afrika se voorste braaimeesters en het in die gewilde KykNet Bring & Braai-reeks twee keer as naaswenner uit die stryd getree. “Ek is verlede jaar weer teruggenooi vir reeks vier, Bring en Braai Sterre, en ek het weer deurgedring tot die finale,” vertel hy.

Die reeks was van Januarie tot Maart op Kyk-Net uitgesaai.

Dirk is al vir 22 jaar lank ‘n inwoner van Polokwane.

Sy hoogtepunte agter die braai is te veel om te noem, maar sy demonstrasie by die Good Food and Wine Show, sy ontwerp vir die “perfekte braaier” en ‘n plaaslike braaikompetisie ten bate van die welsynsorganisasie Hulp in Elke Behoefte (HIEB) is bo-aan die lys.

“Ons het met die braaikompetisie en gholfdag meer as R50 000 ingesamel vir HIEB. Ek is trots om daarmee geassosieer te word,” vertel Dirk wat ook op HIEB se direksie dien.

Review het verlede Donderdagaand gaan loer wat Limpopo se braai-ambassadeur op die kole sit wanneer hy sy vriende Johan van den Berg, Marisa Jansen en Ian en Anda-Lucia Jordaan onthaal.

Dirk het weggespring in die kombuis en ‘n varknek-fillet gevul met spinasie en baba-wortels met ‘n mosterd-en-heuningsmeer voorberei om op die kole te braai.

Die bestanddele in Dirk se spens vertel die storie van ‘n reisiger wat dikwels inspirasie kry van sy vele oorsese vakansies. Op die rakke is daar safraan, Kanadese esdoringstroop, vanieljepeule en truffelpesto.

Terwyl hy die varknekrol voorberei, vertel hy met smaak van sy vriendekring se Come Dine With Me-aande en hoe hy onlangs vir ‘n vriend se tuisteater die spyseniering gedoen het.

Dirk vertel ook met ‘n vonkel in die oog hoe hy kleintyd nie in sy ma se kombuis toegelaat is nie en hoe hy sy passie vir kosmaak ontdek het toe hy ‘n herberg besit het.

“Daar het ons maar die spyskaarte saam met die sjef uitgewerk. Ek het my passie vir kos deur die sjef uitge-leef,” vertel Dirk.

Na 45-minute op die kole is die varknek-fillet gereed en word dit met ‘n mengel-slaai, blomkool en geurige rys voorgesit. Vir nagereg is daar heerlike tuisgemaakte sjokolade mousse.

“Elke ou het sy eie manier van braai,” sê Dirk.

“Die lekker deel van die kompetisies is dat ek verskriklik baie geleer het. Met die TV-program Bring en Braai het ek soveel interessante mense leer ken.”

“Ek het soveel SMSe gekry van mense wat vir my raad gee vir die kompetisie.

“Soos mense wat boodskappe stuur en sê ek moet roomys maak, want Braaiboy hou van roomys,” vertel hy.

Dirk beplan om vanjaar weer ‘n braaikompetisie ten bate van HIEB in Polokwane aan te bied.

Hou Review dop vir meer besonderhede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button