Motorfietsryers bloei vir die SANBD
Die eerste Bikers Blood Drive van die jaar is Saterdag by Savannah Mall aangebied.
POLOKWANE – Die eerste Bikers Blood Drive van die jaar is Saterdag by Savannah Mall aangebied.
Mavis Thomas en haar man, Ian, het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) hierdie geleent-heid georganiseer. Dit is reeds die vyfde jaar wat dié bloedskenkgeleentheid plaasvind.
Die bloedskenkkliniek word twee maal ‘n jaar gehou, in April en November.
Motorfietsryers van in en om Polokwane ondersteun hierdie inisiatief en, as beloning, het elke skenker ‘n modelmotorfietsie as geskenk gekry.
Die modelmotorfietse is geskenk deur verskeie besighede in die stad.
Dit was nie net motorfietsryers wat die bloedskenkkliniek ondersteun het nie, vele inwoners van Polokwane het ook deelgeneem aan hierdie geleentheid.
Dottie Pinn, ‘n skakelbeampte van die SANBD, sê 81 mense het bloed geskenk tydens hierdie bloedskenkgeleentheid waarvan 11 mense nuwe skenkers was.
“Daar was 100 mense, maar ons moes 19 verwys as gevolg van mediese redes. Daar was 47 mans en 34 vroue wat bloed geskenk het. Ek daag die gemeenskap uit om Ian en Mavis se voorbeeld te volg deur aktief betrokke te raak en ‘n verskil te maak,” sê Pinn.
Die volgende Bikers Blood Drive sal teen die einde van November weer by Savannah Mall aangebied word.



