Local NewsNews

Motorfietse lewer Bybels af in Kaap

Drie egpare van Polokwane; Tjaart en Ilze Meyer, Willem en Dawn Swiegers en Ben en Alta van Aardt van die N.G. Kerk-Pietersburg-Oos, het van 22 tot 29 Maart met motorfietse deur dele van die Oos- en Weskaap getoer ten bate van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

POLOKWANE – Drie egpare van Polokwane; Tjaart en Ilze Meyer, Willem en Dawn Swiegers en Ben en Alta van Aardt van die N.G. Kerk-Pietersburg-Oos, het van 22 tot 29 Maart met motorfietse deur dele van die Oos- en Weskaap getoer ten bate van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

“Die Word Riders-toer is gereël deur dr. Francois Sieberhagen van die Bybelgenootskap en dit was die derde toer van dié aard in Suid-Afrika. Verlede jaar se toer het in Limpopo en Mpumalanga plaasgevind,” sê Tjaart, bekende skrywer van Review se godsdiensrubriek.

Meer as 50 ryers op 43 motorfietse van regoor die land het ‘n week afgestaan om 3 000 Bybels ter waarde van R135 000 uit te deel aan gr. 7-leerders van afgeleë skole. Onder die ryers was sakemanne, dominees, pastore, aptekers en ingenieurs. Die kinders wat Bybels gekry het kom uit uiters arm gesinne en slegs ‘n klein persentasie het reeds Bybels van hulle eie besit.

Tjaart vertel die ryers is elke dag in drie groepe verdeel en elke groep het daag-liks twee tot drie skole besoek.

“‘n Baie goed-uitgewerkte program is by die skole aangebied. Daar is aan die kinders verduidelik dat die motorfietsryers ‘n paar liefdes in hulle lewens het. Hulle is lief vir God, lief vir kinders en natuurlik lief vir motorfietsry. ‘n Toer soos dié help hulle om al drie hierdie liefdes te kombineer.

“Daar is ook vir hulle gesê dat iemand anders reeds vir hierdie Bybels betaal het sodat elke gr. 7-leerder ‘n éie Bybel kan hê. Kinders is ook vertel dat die Bybelgenootskap die Bybel vertaal en druk sodat elkeen die Bybel in sy eie taal kan lees,” sê hy.

Tjaart sê ‘n treffende boodskap is deur middel van ‘n buikspreker met ‘n pop aan die kinders oorgedra, waarna die res van die skool verdaag het en die gr. 7-leerders elkeen persoonlik ‘n Bybel ontvang het van die motorfietsryers. “Daar was met elke kind ‘n gesprek gevoer en saam met die kind gebid; ‘n aangrypende ervaring vir elkeen van die ryers, sê Tjaart.

Die ryers het 1 800 km in sewe dae afgelê en het uiteenlopende weersomstandighede beleef: hewige dwarswinde tussen Montagu en Oudtshoorn, gietende reën tussen Oudtshoorn en Mosselbaai en hoë temperature in en rondom Oudtshoorn.

“Ten spyte hiervan het ons, hoewel soms nat en yskoud, ons afsprake by die skole nagekom,” sê Tjaart.

“Ons het per Kombi Kaap toe gery en ons motorfietse op ‘n sleepwa gesleep. Ons het by Brian en Elsie Long, vroeër van Polokwane, in Stellenbosch oorgebly waar ons die Kombi en sleepwa gelos het.

“Daarna het ons met die motorfietse tot by die Bybelhuis in Bellville gery vanwaar die Word Riders-toer begin het.”

“Die eerste oornagplek was op Montagu en daarna het ons twee aande op Oudtshoorn en twee aande by die ATKV-Hartenbos oorgebly.

“Ons het skole besoek tot by Knysna en laastens twee aande in Struisbaai oornag.

“Vandaar het ons teruggery na Stellenbosch, waar ons weer die fietse op die sleepwa gelaai en die lang terugtog aangepak het.

“Dit was regtig ‘n onvergeetlike ervaring en die ry in een van die mooiste dele van ons land het dit baie spesiaal gemaak,” vertel Tjaart.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button