3 dae se wag vir hartseer
Vriende en familie beskryf Pieter Theron as 'n man met 'n onblusbare liefde vir die lewe en avonture in die natuur, iemand wat nie gras onder sy voete laat groei het nie en die lewe vol in die oë gekyk het.
POLOKWANE – Vriende en familie beskryf Pieter Theron as ‘n man met ‘n onblusbare liefde vir die lewe en avonture in die natuur, iemand wat nie gras onder sy voete laat groei het nie en die lewe vol in die oë gekyk het.
Dit was tydens een van hierdie avonture waarvoor hy so bekend was dat die ondenkbare gebeur het. Theron se liggaam was teen Dinsdag steeds soek nadat hy Sondag vermoedelik in ‘n fratsongeluk op die Olifantsrivier dood is.
Theron het oor die afgelope paar jaar vir verskeie myne in die Mecklenburg-area net buite Burgersfort gewerk. Hy het ook ‘n huis daar gehuur.
Oor die Paasnaweek het hy, sy vrou, Sunize, sy skoonouers, sy broer, Louis, en vriende by dié huis gaan uitspan, het sy skoonma, Marinda Botha, aan Review vertel.
Hy wou glo sommer ook tyd met sy hond, Tyren, deurbring en die naweek langs die rivier geniet.
Sy het gesê dat Theron die omgewing speels Kavukiland gedoop het en dat dit vir hom heerlik was om op rubberbande by die rivier af te dryf, veral omdat die stroom plek-plek baie sterk is en vir ‘n opwindende rit gesorg het.
Sy het vertel dat daar ook plekke in die rivier was waar hy graag oor die gladde klippe gegly het.
“Hy wou vir ons gaan wys het waar die lekkerste speelplek op die rivier is en het soos gewoonlik met sy vriende en sy broer geskerts en grappies gemaak. Nie een van ons het ooit gedink dat dit die laaste keer sou wees wat ons saam met hom sou kuier nie,” het Botha vertel. Sy het gesê die groep is almal saam na ‘n area langs die rivier waar hulle wou braai en potjiekos voorberei.
“Pieter het op die keerwal geloop en wou daar afspring, maar ons het hom omgepraat om dit nie te doen nie. Hy het nog so op die keerwal geloop toe sy voet gegly het en hy in die water geval het,” het sy vertel. Hy het vermoedelik sy kop gestamp in die proses.
Volgens Botha het sy gesien hoe Theron nog ‘n keer of wat bo die malende water uitgekom het en toe nie weer nie. Sy het gesê sy broer en vriende het vergeefs probeer om hom uit die water te red.
“Een van sy vriende het uit die water gekom en magteloos na my gekom en gesê hulle kan hom net nie kry nie. Dit het donker geword en ons kon nie meer soek nie. Ek het van pure skok aanhou foto’s neem en het om 17:45 die laaste skoot van hom geneem voordat hy finaal onder die water verdwyn het.
Die soektog na Theron se liggaam is Maandag en Dinsdag voortgesit, maar daar was geen teken van hom nie.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Kol. Ronel Otto het aan Review verduidelik dat die ligging van die area waar Theron verdwyn het die soektog bemoeilik het, omdat die water erg kolk op daardie punt van die rivier is.
Botha het gesê sy sou nie ophou soek voordat hulle nie Theron se liggaam gevind het nie.
“Hy was nie net my skoonseun nie, hy was soos my eie kind. Ek sal nie rus tot hy gevind is nie. Ek sal hom nie hier los nie,” het sy Dinsdag aan Review gesê waar sy steeds op die rivierwal gesit het, wagtend op nuus oor haar skoonseun.
Gister (Woensdag) het Botha Review laat weet dat hulle Theron se lyk 2km in die rivier af opgespoor het.
“Ek moes net daar bly. Ek kon nie huistoe gaan met niks nie. Ek kon hom net nie daar los nie. Net voor hy weg is het hy my nog natgespat en geterg omdat ek nie wou swem nie. Ek sal sy laaste woorde nooit vergeet nie: ‘toe kom nou ouvrou,’.”
Otto het gesê die polisie het inligting onvang dat inwoners van die gebied ‘n liggaam 2km stroomaf gesien het. Die polisie se duikspan het ondersoek ingestel en Theron se liggaam uitgeduik.
Theron se begrafnisreëlings sal op Review se Facebookblad bekendgemaak word sodra dit beskikbaar is.



