Nie hoekyster of vollie stuit Gerrit
Gerrit Venter, verkoopsbestuurder van Duroc Foods, se beterskap na 'n onlangse aanval deur 'n werker is amper in die wiele gery die Paasnaweek nadat hy deur een van die volstruismannetjie op sy plaas aangeval is.
POLOKWANE – Gerrit Venter, verkoopsbestuurder van Duroc Foods, se beterskap na ‘n onlangse aanval deur ‘n werker is amper in die wiele gery die Paasnaweek nadat hy deur een van die volstruismannetjie op sy plaas aangeval is.
Venter was saam met sy kinders by die volstruiskampe toe die een mannetjies op sy kinders afgestorm het.
Hy het voor sy kinders gaan staan om hulle te beskerm en die volstruis het hom aangeval. “Ek het merke op my bors maar het nie ernstig seergekry nie. Ek is so dankbaar dat ek gespaar is na twee voorvalle waar ek dood kon gewees het,” het Venter vertel.
Venter is terug by die huis nadat hy in Maart na bewering deur een van die werknemers van Duroc Foods in die gesig geslaan is met ‘n hoekyster en vir noodbehandeling na Gauteng geneem is.
Hy is na talle operasies om skade aan sy gesig en skedel te herstel ontslaan en sterk tans aan by die huis.
“Die dokters is tevrede met my vordering. Ek voel net nog baie moeg as gevolg van al die lê in die hospitaal, maar verder is ek net gelukkig om by die huis te wees.
“Ek het geen probleem met my geheue nie en kan alles onthou. Volgens die dokters is dit ‘n baie goeie teken. Hulle glo nie dit sal nodig wees om verdere operasies uit te voer nie.”
Sipho Lekgoathoane (34) is op die perseel van Duroc foods in hegtenis geneem en het reeds twee keer in die Polokwane landdroshof op ‘n aanklag van poging tot moord verskyn na die aanval op Venter. Die saak is tot Mei uitgestel en die beskuldigde is borgtog geweier.



