Dra tekkies op 30 Mei en help ander floreer
Die Tekkie Tax-inisiatief het alle verwagtinge verlede jaar oortref deur R2,4 miljoen in die eerste jaar van sy bestaan in te samel.
Die Tekkie Tax-inisiatief het alle verwagtinge verlede jaar oortref deur R2,4 miljoen in die eerste jaar van sy bestaan in te samel.
Meer as 180 plaaslike welsynsorganisasies het daarby gebaat en alle fondse is in November onder dié organisasies verdeel.
Die Tekkie Tax-inisiatief het aan mense die geleentheid gegee om ‘n spesifieke plakker vir ‘n spesifieke liefdadigheidskategorie te koop en só hul gunsteling saak te ondersteun.
Watter sektore het naaste aan die publiek se harte gelê? ‘n Totaal van 34% van die deelnemers het ‘n C-plakker gekies wat kinderswelsynsorganisasies verteenwoordig het.
Die organiseerders van hierdie veldtog, The Marketing Team, het oorweldigende terugvoer van dankbaarheid ontvang omdat hulle so ‘n eenvoudige en lae-risiko fondsinsamelingsveldtog geloods het.
Bev Seabourne van Highveld Horse Care het gesê uiteindelik is daar ‘n nasionale fondsinsamelingsprojek waarby diere ook kan baat. “Ons is so dankbaar om deel hiervan te kan wees. Ons diens aan perde en donkies help veel meer as net die diere, want ‘n gesonde perd of donkie sorg dat daar ‘n inkomste vir die gesin is. Kinders kan skool toe geneem word en water en steenkool kan aangery word. Lank leef Tekkie Tax.”
Hierdie jaar bied die Tekkie Tax-span weer ‘n geleentheid aan weldoeners om te wys waar hul harte lê op Vrydag, 30 Mei.
Die publiek word gevra om Tekkie Tax-plakkers aan te skaf teen R10 elk.
Daar is vyf verskillende plakkers om van te kies en elkeen verteenwoordig ‘n spesifieke afdeling van diensle-wering. Afhangende van waar jou hart lê, kies jy een of meer van die afdelings wat jy wil ondersteun met jou R10- plakkerdonasie:
Afdelings:
• Afdeling A – diere;
• Afdeling B – basiese familiedienste;
• Afdeling C – kinders;
• Afdeling D – dienslewering aan gestremdes, en
• Afdeling E – essensiële onderwys.
Op Tekkie Tax-dag dra almal hul groot plakkers op die bors en die klein plakkertjies kan op selfone geplak word om daar te bly vir die res van die jaar.
Wanneer hul Tekkie Tax betaal is, mag die plakkerdraer tekkies aantrek werk toe, maak nie saak hoe die res van hul uitrustings daarna uitsien nie.
Deelnemers kan selfs hul tekkies opkikker deur ‘n paar oulike skoenveters, Tekkie Tags, aan te skaf vir ‘n R30 donasie en die plakker van jou keuse word dan by hierdie prys ingesluit.
Die veldtog word onderskryf deur 15 van die grootste Nasionale welsynsorganisasies in die land.
Annelise de Jager, nasionale projekorganiseerder, het verduidelik dat om uitgawes te beperk altyd belangrik is, maar wanneer dit by ‘n fondsinsamelingsprojekte kom is dit van kardinale belang dat almal saamwerk.
“Met 15 nasionale welsynsorganisasies wat hier saamwerk, verseker ons dat die kostestruktuur van Tekkie Tax laer is as enige ander soortgelyke projek. Ons is nie besig om die wiel te herontwerp nie, maar ons is verseker besig om ‘n nuwe fondsinsamelings-blaadjie in Suid-Afrika om te slaan.”
Ondersteun Tekkie Tax dag op Vrydag, 30 Mei.
Koop jou plakker by die Polokwane Nasorgsentrum of skakel Saartjie du Toit by (015) 297 1459.



